Klinkende simbale...

geskryf deur Ds Karin Steyn
1 Kor. 13:1 “Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek 'n klinkende metaal of 'n luidende simbaal geword.”
 
Luister vir ‘n oomblik hoe dit om jou klink…
Wat is die geluide waarvan jy bewus word? Is daar dalk soveel verskillende geluide om jou, dat jy nie eers almal inneem en regtig hoor nie?
 
“Misophonia” – Dit is ‘n term wat ek ‘n ruk gelede op sosiale media raak gelees het. Dit beteken ‘n sensitiwiteit vir sekere geluide. Het jy dalk dit?
 
Wanneer Paulus oor hoe ‘n gelowige se lewe moet lyk praat, gebruik hy hierdie beeld van klinkende simbale - ‘n beeld wat in ons feesweek van Lig & Ritme ook baie vir ons kan beteken. Hy herinner die gelowiges dat hulle nie maar net sinneloos mag praat of aanhou geraas maak nie. Want as die liefde in ons leef, het ons lewe ‘n sekere ritme wat uitkom in hoe ons stories vertel, ons lewens deel en dink oor die toekoms. ‘n Ritme wat ander wil laat saam beweeg en saam droom.
 
Dis fassinerend om te lees hoe die antieke mens gedink het oor klank. Vitruvius, ’n argitek wat in die eerste eeu voor Christus geleef het, skryf baie oor klank in antieke geboue en tempels.  Hy skryf ook oor die probleem om stemme te projekteer in teaters wat uit materiale soos marmer gebou is. Hy sê dat spesiale eggo-apparate gebruik was wat e·kheiʹa genoem is. Dit was klankkomme wat uit brons gemaak is en agter in ’n amfiteater geplaas is om te help om die klank te versterk en te projekteer. Hierdie verskynsel vind ongeveer honderd jaar voordat Paulus sy brief aan die Korinte gemeente skryf, plaas.
 
Wanneer Paulus hierdie beeld van klinkende simbale in 1 Korintiërs gebruik verstaan gelowiges mooi die rol van klank. Shakespeare het ook die bekende uitdrukking gehad: “Leë blikke maak die grootste geraas.” Paulus kon iets soortgelyks in gedagte gehad het toe hy gepraat het van diegene wat ’n ophef maak van hulle spesiale gawes, maar wat die grootste gawe—liefde—kortkom. Hulle het hard geëggo, maar het geen werklike diepte gehad nie. Hulle was soos ’n harde, wanluidende geraas pleks van ’n aanloklike, strelende klank.
 
Wat van jou?
Watter geluide oorheers jou lewe?
Is liefde die beweegkrag agter jou dade en woorde?
Of dra jy by tot die geraas soos ‘n klinkende stuk koper of ’n luidende simbaal”?
 
Mag ons as kerk nie bydra tot die geraas wat so maklik in ons gemeenskappe gemaak word nie. Maar eerder musiek skryf, waarop ons gemeenskap kan dans! Ons sien uit om die naweek saam fees te vier.
 
Op God se ritme!
Ds. Karin Steyn