Geloof as bewys

geskryf deur Ds Wouter van Wyk
Ons leef in ‘n wêreld waar dit daagliks vir mense moeiliker raak om te glo. Aan die een kant word die wetenskap gebruik as ‘n rede waarom geloof onmoontlik is. Wetenskap verklaar baie dinge wat tradisioneel slegs deur ‘n geloofsbril gesien is. Ander mense sukkel weer om te glo as gevolg van al die swaarkry en lyding in die wêreld. Hoe kan daar ‘n God wees wat sulke dinge “toelaat”? As ek eerlik mag wees, kan ek ook getuig dat dit al verskeie tye in my lewe moeilik was om te glo. Dit gaan in my geval gewoonlik gepaard met ‘n eksistensiële krisis van een of ander aard. Vrae oor myself, oor die doel van alles, oor die toekoms ens. Hierdie vrae kan my gedagtes soms vir baie lank besig hou.

Ek dink een van die redes waarom geloof so moeilik is, is omdat daar soveel verskillende definisies daarvoor is. Wat presies is geloof? Is dit eenvoudig ‘n rasionele bevestiging dat daar iets groter as onsself is en dat hierdie entiteit verantwoordelik is vir die skepping? Is dit ‘n ervaring van ekstase tydens een of ander byeenkoms? Is dit ‘n lysie dinge wat ‘n kerkvergadering bymekaar gemaak het waaroor daar konsensus bereik is?
In Hebreërs 11 kry ons die enigste definisie van geloof in die hele Bybel.
Die 1983 vertaling lees soos volg:

1 Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

As ‘n mens so daarna luister is geloof die sprong wat jy maak na dit wat jy nie kan sien nie. Dit is presies hierdie soort definisie wat vir baie moderne mense nie moontlik is nie. Vir baie is hierdie definisie absurd en het dit tot baie skade gely. Want hoe kan daar van ons verwag word om net ons oë toe te maak en te spring? Is dit nie te veel gevra nie?

Ek hou daarom ook eintlik meer van die 2020 vertaling:
Geloof, egter, is sekerheid van die dinge wat gehoop word, 'n bewys van die dinge wat nie gesien word nie.

Hierdie definisie het die wêreld vir my oopgemaak. Geloof word nou nie net ‘n blinde sprong in die hoop dat die toekoms moontlik iets vir ons inhou nie. Geloof word die bewys dat die toekoms iets vir ons inhou.

Ons het die afgelope naweek so heerlik feesgevier. Die fees is in ‘n tyd gewees waar baie mense swaarkry, waar baie mense twyfel, waar baie mense sukkel met kerk. Tog het ons in geloof saamgekom, saam gedeel aan die atmosfeer, saam gewerk, saam gelag en gekuier. Vir daardie paar ure het ons vir mense gewys hoe ons hoopdraers van die toekoms is. Saterdag het ons geloof die bewys geword van die opstanding toe daar honderde kospakkies uitgedeel is vir mense wat op straat is. Sondag het ons die geskenk van die lewe beleef deur nagmaal saam te gebruik. Die middag kon ons geloof met ‘n gemeente uit Mamelodi deel. In een naweek het ons gemeente se geloof die bewys geword dat Jesus Christus leef. Jesus Christus leef, werk met mense, verander die wêreld – want ons geloof is die bewys daarvan.

Mag ons gemeente se geloof die bewys wees van God se werk hier op aarde.

Genade en vrede