Nes jou Pa!

geskryf deur Prop. Olga Ludwick
Dit kan maklik ‘n belediging wees. Daai ses woordjies wat jy in irritasie aan iemand toesnou: “Jy is nou nes jou pa/ma!”

Dis een van daai klassieke sinne wat groot konflik veroorsaak in TV programme, want almal kan daarmee vereenselwig.

Ons almal het sulke dinge waarmee ons net nie toegesnou wil word nie. Iets wat jou ouers doen of gedoen het wat jy net asseblief nie ook wil doen nie. Maar dan is daar ook goed wat jou ouers vir jou geleer het wat diep in jou DNS sit. Goed wat jy aspris so doen, want dit is hoe julle dit doen. Dis wie julle gesin is. Dit kom van die na-werksure se dophou hoe jou ma kook; gereedskap vir jou pa aangee terwyl hy nutsmantakies doen; gesprekke in die kar en dophou wat jou ouers doen en sê terwyl julle deur die winkels stap, en is daardie goed wat jy vanself outomaties doen soos hulle dit sal doen. Of jy nou wil óf nie. Ons word soos die mense waarmee ons baie tyd spandeer.

Dit is dieselfde met God. Hoe meer ons God leer ken hoe meer leer ons onsself ken. Hoe meer word daar ‘n lig geskyn op die per ongelukke en asprisse aspekte van wie jy is. Hoe ons oor God dink beïnvloed hoe ons oor onsself dink. Wie God is word weerspieël in wie ons is.

Wat is jou prentjie van God?

Wat is die gedagtes wat jy oor jouself het?

Johannes Calvyn het gesê dat wysheid uit twee dele bestaan: om God te ken én om onsself te ken.

Ons prentjie van God het ‘n direkte invloed op die manier waarop ons na onsself kyk en onsself liefhet.

Jesus het vir God as Vader aangespreek. Hy het vir God geken. Hy het geweet waar hy vandaan kom en daarom het hy ook geweet waarheen hy op pad is.
Ons is na God se beeld gevorm (Gen 1:27). Net soos wat daar dinge is wat jy nie kies om soos jou ma of pa te doen nie, net so is daar dinge wat jy nie anders kan doen nie. Dis deel van jou DNS. God is liefde en daarom het ons mekaar lief.

Maar dan is daar ook ander dinge. Dinge wat jy slegs kan leer deur tyd saam met God te spandeer. Deur te weet wie God is. Juis sodat ons kan weet wie ons is.

"eers het ek
gedink
my pad
loop na buite
nou weet ek
my reis is
toenemend
gekeer na binne
na my begrensde self
my weggesteekte
verlore, vergete self
my ware self
wat nog altyd daar was
steeds is
maar waarvan die deur
toegegroei het
met ‘n lig in my hand
met ‘n lig in my hart
reis ek
soms alleen
soms saam met ander pelgrims
deur die donker
binnekamers
na die wond
na die kind
wat bang roep
om redding
en smeek
om saam met my
en my skadu
tuis te kom
in die Vaderhuis”
- Willem van der Colff

Mag jy God elke dag beter leer ken, sodat daar ‘n lig geskyn word op wie jy werklik is, sodat die woorde “jy’s nou nes jou pa!” nie ‘n belediging is nie, maar jou herinner aan die diepste waarheid van wie jy is.