Die goue reël

geskryf deur Dr Zander van der Westhuizen
Ek stap baie oggende by my kantoor in en dan wag 'n geskenkie vir my. Gister was dit 'n houertjie lekkers saam met 'n nota: "Onthou die beste dinge in die lewe is gratis: geluk en vreugde!” Dit is 'n gereelde verrassing in my lewe hierdie jaar, want ons kantoor het 'n "spook" speletjie onder die personeel. Aan die begin van die jaar trek jy 'n naam en dan "spook" jy die hele jaar by daardie persoon deur vir hulle nou en dan iets te los. Aan die einde van die jaar by ons afsluitingsfunksie moet jy dan raai wie jou "spokie" was.

Alhoewel die speletjie georganiseerd is, bly dit elke keer vir my spesiaal as my "spokie" iets betekenisvol op my tafel los. Veral op besige dae of in moeilike weke. Ek het gelukkig 'n "spokie" wat aktief is (partymaal kan jy 'n useless "spokie" wen).
 
Sondagoggend voor die diens wag daar 'n mandjie met koekies, beskuit, koeldrank en neute vir my. Dit is van my sekretaresse. Sy skryf dat sy kan sien dit gaan baie besig en rof by my.
Jesus het 'n goue reël gehad. Ons lees daarvan in Matteus 7:12. In die volksmond ken ons dit eenvoudig as: "Doen aan ander, wat jy aan jouself gedoen wil hê".

Hierdie reël vorm ten diepste die basis van ons Christelike etiek. 'n Mens lees dit saam met die opsomming van die Wet in Matteus 22 en dan verstaan jy mooi hoe Jesus wil hê ons ander moet behandel en hanteer.

Jare terug is daar 'n beweging begin wat vandag baie meer gestruktureerd is. Die beweging fokus op “random acts of kindness”. Ek vertaal dit as lukrake dade van goedheid en vriendelikheid. Hierdie beweging moedig mense aan om lukraak iets goeds vir iemand anders te doen. Dit kan beteken om die deur oop te maak, iemand se gras te sny sonder dat hulle dit verwag of om vir iemand wat agter jou in die ry staan 'n plek te gee. Soms beteken dit om iets te gee en ander kere beteken dit om iets vir iemand anders te doen.

Ek onthou oom Sydney Winterbone van ons gemeente. Hy is 'n paar jaar gelede oorlede. Hy sou na iemand toe stap in 'n winkel as hy sien hulle sukkel. Dan doen hy vir hulle iets. Hy dra hulle mandjie of bied aan om te help met iets. Soms het hy na 'n lekker geselsie vir die persoon gevra of hy vir hulle kan bid. Dan bid hy sommer net daar in die winkel vir hulle met sy liefdevolle en vriendelike menswees.

Mense soos my oom Sydney, my "spokie" en my sekretaresse herinner my aan Jesus se goue reël.

Dit vra niks van jou om goedheid en vriendelikheid met ander te deel nie. Dalk 'n pakkie koekies, 'n paar rand se parkeergeld of 'n oomblik van jou waardevolste kommoditeit: tyd.
Ander kere kos die goue reël jou baie. Dit vra van jou om iemand met wie jy wesenlik verskil, of in 'n argument betrokke is, te behandel met liefde en wysheid soos Jesus sou. Dan moet jy selfbeheersing toepas en dink hoe jy sou wou behandel word in 'n soortgelyke situasie.

Ons kort meer mense wat die goue reël toepas in ons samelewing. Ons kort meer lukrake dade van vriendelikheid en goedheid.

Wil jy nie hierdie week daardie mens wees nie asseblief?