Met Woord en saad

geskryf deur Ds Wouter van Wyk

Lukas 8:4-15
 
Thomas Merton sê dat elke oomblik en elke gebeurtenis van elke mens se lewe op aarde, ‘n oomblik is waar daar iets in jou siel geplant word. Want net soos die wind duisende sade oor die aarde dra, so bring elke lewens oomblik sade van geestelike lewenskragtigheid mee wat onmerkbaar in die gedagtes en die wil van mense tot rus kom. Die meeste van hierdie sade vergaan of raak verlore, omdat die mens nie bereid is om dit te laat ontkiem nie. Die rede hiervoor is omdat sulke sade slegs kan ontkiem in die goeie grond van vryheid, spontaneïteit en liefde.
 
Dis nie nuwe nuus nie. Christus het lank gelede in die gelykenis van die saaier vir ons gesê: "Die saad is die woord van God." Ons dink dikwels dit geld net vir die woord van die Evangelie soos dit formeel op Sondae in kerke verkondig word. Maar elke uitdrukking van die wil van God is in 'n sekere sin 'n "woord" van God en daarom 'n "saad" van nuwe lewe. Die voortdurend veranderende werklikheid van ons lewe behoort ons wakker te maak vir die moontlikheid van 'n ononderbroke dialoog met God. Ons moet bewus raak van die liefde van God in elke situasie.
 
‘n Mens kan hierdie gelykenis uit verskillende perspektiewe interpreteer. Aan die een kant kan jy jouself sien as iemand wat die saad saai. Jy kan sien hoe jy jou kinders, kollegas, medegelowiges wil bearbei sodat hulle kan wees waar jy is. Sodat húlle kan groei. Sodat húlle sal sien waar hulle kan verbeter of struikel. Ek het hierdie vlak van geestelike arrogansie weer in die afgelope week beleef, en ek trap ook gereeld self in hierdie lokval. Ons moet onsself daarom gereeld herinner aan hierdie feit: God laat die saad groei – nie ons nie. God bepaal die rigting en die tempo – nie ons nie.
 
Vandag daag die gelykenis my eerder uit om my eie hart te ondersoek en te vra of ek werklik toelaat dat die woord van God in my lewe ontkiem. Ondersoek ek elke situasie in my lewe as ‘n moontlikheid waar God my wil laat groei. Dra ek vrugte van liefde, geduld, deernis, geregtigheid? Sien ek my HELE lewe as grond van gesprek met die Here en nie net die oomblikke wanneer ek “geestelik” verkeer nie. Wat is die dinge in my lewe wat my laat moed verloor om te groei of te luister? Wanneer verkies ek maklike, oppervlakkige antwoorde wat verhoed dat ek regtig wortel skiet? Watter nuwe saad wil God vandag in jou laat ontkiem?
 
Mag jy saam met my hierdie vrae beantwoord en groei soos die Here dit wil hê. Mag die Here se standaard van groei en ontwikkeling die enigste maatstaf wees wat gewig dra in ons lewens. Mag ons harte in elke oomblik ontvanklike grond wees waar ons die woorde van God kan hoor.
 
Genade en vrede