Wag op die Here

geskryf deur Prop. Olga Ludwick

Dis een van daai vinnige advies sinnetjies wat ons so maklik uitdeel wanneer iemand deur ‘n uitdagende tyd gaan: “Wag op die Here,” of “Die Here se tyd is nie ons tyd nie,” Maar wat beteken hierdie sin werklik?

Psalms 27: 14 sê dit ook:
Wag op die Here! Wees sterk en hou moed, ja wag op die Here! (2020 vertaling)
Die 83 vertaling verwoord dit anders. Dit sê: “Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die Here!”

Om vir iemand te wag, beteken dat jy vertrou dat daardie persoon sal opdaag. Soos ‘n kind wat vertrou dat sy ouers hom by die skool sal oplaai.
Maar hierdie tipe vertroue vra iets ekstra van jou wanneer jy ‘n tyd van groot onsekerheid beleef. Soos wanneer jy óf ‘n geliefde siek is. As jou besigheid swaar kry. As jy nie ‘n werk het nie. Die Psalmdigter het self met hierdie “wag” geworstel. As ons Psalm 27 lees sien ons hoe hy oomblikke van vertroue ervaar, maar ook oomblikke wat hy na sy omstandighede kyk en uitroep na die Here.

Psalm 27:7 Luister tog, Here, na my stem wanneer ek roep, wees my genadig en antwoord my!
 
In die Bybel tref ons talle verhale aan van gelowiges wat moes wag op die Here. Dis een van daai tema’s van die lewe wat universeel is. Abraham wat gewag het vir ‘n kind; Moses wat wag vir Farao om die Israeliete te laat gaan; Noag wat wag vir die reën om op te hou en die water om te sak; om maar ‘n paar te noem. Wat het hierdie verhale in gemeen? Wat is die goue draad wat deur hulle loop?

God was altyd getrou – dis die goue draad. Die karakters in hierdie verhale het op God vertrou en God het elke keer vir hulle opgedaag. Hulle kon maar op God vertrou, want God is getrou.
Maar dan is daar ook ‘n tweede draad. Elkeen van die karakters het aktief gewag. Hulle vertroue in God het gemaak dat hulle deelgeneem het aan God se belofte. Hulle het gewerk na God se belofte. Die sekerheid dat God altyd getrou is, het hulle in staat gestel om uit te hou en aan te hou.

Mag jy ook ontdek dat jy op God kan vertrou. Mag jou vertroue jou bekragtig om aktief te wag op die Here. En mag daar uit jou aktiewe wag, opnuut hoop spruit.