Kan jy iets gee as jy niks het nie?

geskryf deur Dr. Zander van der Westhuizen
Dit hang seker af van jou definisie van wat "iets" of "niks" beteken.
 
Ons begin Sondag met ons nuwe Tiendemaand-reeks. Ons pak dit bietjie anders as gewoonlik aan deur vir drie weke lank dieselfde gelykenis te bestudeer. Ons noem so 'n proses "wandel in die Woord". Wanneer 'n mens herhaaldelik dieselfde gedeelte in die Bybel lees, gebeur daar iets met jou. Jy kan amper sê aan die begin "besit die teks jou" en soos jy die teksgedeelte al meer  lees, deurdink en deurbid, begin "die teks jou besit". 'n Mens sou ook kon sê die Woord praat al duideliker met jou namate jy dieper in die teks delf. 
 
Ons gaan in die volgende paar weke deur die onbekende gelykenis van Lukas 16:1-13 werk. Ons gaan saam en alleen daardeur "wandel" en kyk hoe die Here daardeur met ons praat.
 
Daar is meer as een verstaan van die gelykenis, maar dis duidelik dat dit oor geld gaan, die ekonomie en wat Jesus as belangrik sien.
 
Ons staan elke jaar tydens die Tiendemaand stil om na te dink oor wat dankbaarheid en gee beteken. Ons weet ons moet gee. Ons weet ons moet dankbaar wees, maar wat as jy niks het om te gee nie?
 
Die definisie van "wat ons moet gee" het dikwels met geld en die materiële te doen. Ons sien dit ook in die gelykenis. Maar wat ons besit en wat ons verdien is nie al definisie van "bates" in die ekonomie van die Koninkryk nie. 
 
Jy het dalk baie meer om te gee as wat jy dink. Werklike "kapitaal" is waarskynlik tot jou beskikking sonder dat jy dit besef.
 
Hieroor gaan ons nog baie saam dink. Ek hoop jy lees solank die gelykenis 'n paar keer deur voordat ons Sondag met die reeks begin.
 
Voor jy dink jy het niks om te gee nie - maak net eers seker wat jou definisie is van daardie "niks".
 
Dr. Zander van der Westhuizen