My Vader werk tot nou toe

geskryf deur Ds Wouter van Wyk
Wonderwerke het my nog altyd gefassineer. Hoe presies het dit gebeur dat Jesus 5000 mense kon kos gee? Hoe moes dit nie gewees het om te sien hoe Jesus op die water geloop het nie. Ander mense is soms opgewonde om te hoor dat Jesus se eerste wonderwerk was om water in wyn te verander. Dis mos ‘n groenlig om lekker partytjie te hou.

Maar ek dink ons moet altyd onthou dat die Bybel vir ons meer as net die “wonder” van ‘n wonderwerk te wys. Dit is ook so in Johannes 5. In hierdie gedeelte genees Jesus ‘n verlamde man. Maar meer interessant as die wonderwerk self, is die reaksie van mense. In die eerste plek is hierdie dalk moontlik die ondankbaarste ontvanger van ‘n wonderwerk wat ons ooit teëkom. Dit blyk nie eers of hy dankie sê nie. Hy weet nie eers wat Jesus se naam is nie. Die tweede vreemde saak in die teks is die Jode se reaksie op die genesing. In plaas daarvan om saam in verwondering te staan oor die wonderwerk, raak hulle vasgevang oor die letter van die wet. Niemand mag op die Sabbat ‘n matras dra nie. Niemand mag op die Sabbat mense gesond maak nie.

Ek dink ons maak ook nogal maklik so. Aan die een kant doen die Here so baie in ons lewens vir ons. Ons beleef daagliks hoe God vir ons goed is. Ons beleef hoe God ons lei en leer. Ons beleef hoe ons in ‘n gemeenskap ‘n verskil kan maak. Tog bly ons ook dikwels ondankbaar. Of selfs net bloot onbewus van al hierdie dinge.

Ons is ook dikwels soos die Jode. As iets nie in ons prentjie inpas in hoe ons God verstaan nie, haak ons vas op die verkeerde dinge. Ons haak vas by reëls en regulasies. Ons vra vrae soos: “wat is die amptelike standpunt van die kerk oor hierdie saak”. In plaas daarvan om te sien waar God eintlik aan die werk is.

Dit is wat Jesus ook aan die einde van die gedeelte bevestig wanneer Hy sê: My Vader werk tot nou toe, en ek werk ook (Vers 17).
God werk heeltyd. Rondom ons. Binne ons. Saam met ons. En sonder ons. Die eintlike vraag behoort te wees – sien ons dit raak! En raak ons deel van hierdie werk!

Daar is in ons wêreld soveel wonderwerke elke dag aan die gebeur. Mag jy dit raaksien. Mag jy die Een se naam ken wat dit doen. Mag jy ook sê: My Vader werk tot nou toe, en ek werk ook.

Genade en vrede
Ds Wouter