Roeping

geskryf deur Prop. Olga Ludwick
Dis daardie tyd van die jaar – eksamentyd. Vir enige graad 11- of 12- leerder is dit seker een van die belangrikste tye van die jaar. Die druk is hoog. Dis ‘n kwessie van haal diep asem en maak jou handboek oop! Sou hulle hard leer en fokus, gaan eksamentyd oorwaai en is hulle een stap nader aan ‘n droomwerk.

Dit laat my sommer dink aan ons werke.
‘n Werk is iets met ‘n duidelik gestipuleerde uitkoms – ‘n werksbeskrywing. ‘n Lysie van take wat jy moet afhandel. Wanneer jy ‘n klomp regmerkies agter elke taak kry, kan jy jou werk ‘n stappie verder vat en dit verander in ‘n loopbaan. ‘n Loopbaan strek oor ‘n lang tyd, sluit bevordering in en word ‘n beroep.

Maar dan is daar nog ‘n tipe werk - roeping. Miskien is jou werk jou roeping. Óf dalk is jou werk ‘n platform wat jou roeping moontlik maak. Roeping is veel meer as ‘n 9 tot 5-werk. Roeping is nie iets waaroor net ‘n leraar beskik nie. Elke gelowige het ‘n roeping. Elkeen het ‘n rol te speel in die gemeente en in die gemeenskap.

Roeping word deel van elke aspek van jou lewe. Dit word ‘n lewenstaak. Dit beïnvloed hoe jy jou werk doen, jou inkopies doen, hoe jy met jou familie en vriende omgaan en kuier en hoe jy met vreemdelinge gesels.

In 1 Korintiërs 10:31 staan daar: “Of julle eet of drink of enigiets anders doen, doen dit alles tot die eer van God.”
 
Ons kan dit maklik gebruik om ‘n “Jesussousie” oor aspekte van ons lewe te gooi, maar die vraag is eerder hoe lyk daardie dele van jou lewe wat jy eintlik afsny en uitlaat uit jou Christenskap. Dan weer, hoe lyk dit as jou roeping elke aspek van jou lewe deurweek?
Eerskomende Sondag lê ‘n groep graad 11’s belydenis van geloof af. Dis vir my so mooi dat hierdie rite juis in eksamentyd val, want dit bind presies hierdie twee tipes werke saam – roeping en beroep.

Soos wat hierdie jongmense erken dat God hulle geroep het en dit hardop bely in die teenwoordigheid van ons gemeenskap, word ons ook bewus dat God elkeen van ons geroep het. Ons het elkeen ‘n verantwoordelikheid om ons roeping uit te leef. God seën ons sodat ons ‘n seën kan wees. Filippense 2:13 sê: “Want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God.”

Mag jy God se roepstem hoor. Mag jou roeping duidelik word. Mag dit jou hele lewe deurweek en nie net ‘n klein deeltjie daarvan wees nie. En mag jy besef dat dit God self is wat jou in staat stel om in jou roeping te volhard.