Heimwee
geskryf deur Ds Wouter van Wyk
Ek is stout vir ‘n stukkie heimwee. Of soos tant Mimi dit sou sing: “O, ek sien weer die son op die velde en die ewige blou daarbo. En my hart skiet vol van heimwee en my drome swem in my oë”. Selfs tannie Laurika raak ook met tye “O, so sentimenteel”. Om jouself met ‘n stukkie sentiment te verknus, kan selfs Bybels wees. Dit is in elk geval hoe dit vir my lyk as ek bv. Psalm 126 lees: “Die Here het groot dinge aan ons gedoen”
So luister ek die afgelope week heerlik na liedjies uit my verlede. Na Lucas se Victoriabaai en ek dink hoe ek al op die strand gesit het en kyk hoe die “son die hemel oopsluit” en die strand “bloos van hoop”. Ek luister na Coenie se Karoonag en dink hoe ons met seevakansies deur die pragtige Moordenaarskaroo kan ry. (Ek en die ander 43 Afrikaanssprekendes geniet darem hierdie kunstenaars baie, hoor!)
Ek dwaal af.
Wat ek wil sê, is dat heimwee jou soms na plekke en drome neem wat amper verhewe is bo die werklikheid. Wanneer ons terug dink na plekke of gebeurtenisse van betekenis, gebeur daar iets met ‘n mens se siel. Jy is in die hede, maar jou hart reik na die verlede sodat jy hoop kry vir die toekoms. In kort – jy is op 3 plekke tegelyk. Net die Here is in die hede, die toekoms en die verlede. Dis dié dat ek sê – iets gebeur met jou siel.
Ou Dawid het ook ‘n stukkie heimwee gehad. Daar, in ‘n grot in die middel van ‘n oorlog, dink hy terug oor sy kinderdae. Die dae waar hy sonder sorg, as jong skaapwagter by die poort van Betlehem kon water drink. Die 2020 Direkte Vertaling sê dit reg: “Dawid was vol heimwee en het gesê: 'As iemand tog net vir my water kon laat drink uit die opgaarput by Betlehem wat by die dorpspoort is!'” (vers 15). Die getroue helde hoor sy heimwee en besluit summier om iets daaraan te doen. Die 3 was dalk brawe vegters gewees, maar die fynere kuns van simboliek en metafoor was duidelik nie vir hulle beskore nie. Nietemin sien Dawid hulle gebaar raak. Hy sien wat hy het in hierdie vriende. Mense wat hul lewe vir hom sal waag. Geliefdes wat daar is, selfs in moeilike tye. Dit is heilig. Daarom stel hy eerder ‘n sakrament in deur dit as ‘n offer vir die Here uit te giet.
Heimwee, sê die slim ouens, is ‘n kritiese deel van ons psigiese gesondheid. Te vinnig en maklik word dit van die hand gewys as soetsappigheid. Heimwee is broodnodig - veral wanneer mens vasgekeer voel en benoudheid beleef. Heimwee help ons om terug te gaan na die verlede, sodat jy kan hoop skep vir die toekoms. Dan sien mens sommer die sakramente in die hede ook raak. Dalk is dit ook wat met Dawid gebeur het.
Mag jy in die Kersfeestyd vervul word met heimwee. Mag jy die bevryding van die kruis beleef deur die geboorte van ‘n Kind. Mag jou hart die geskenke van die hede raaksien en mag dit as sakramente geoffer word aan die Heer. Mag jy rus vind in al God se weë. Ook in die heimwee.
Genade en vrede
Ds. Wouter