Beweeg!

geskryf deur Dr Zander van der Westhuizen
Verbeel jou die hele wêreld is God se speelgrond waarbinne jy kan baljaar. Rondom jou is die Here se dansvloer waarop jy kan dans. Die hele skepping is die Here se ruimte waarbinne jy soos 'n kunstenaar aan nuwe kreatiwiteit geboorte kan gee. Die spasie waarbinne jy kan beweeg, is eindeloos!
 
Ons dink dikwels die koninkryk van God is beperk tot die kerkgronde of die binnekamer van ons geestelike lewe. Ons hanteer die koninkryk van God soos 'n afgekampte area waarbinne Christenskap mag floreer. Alles buite hierdie area is sekulêr, boos en donker. Wanneer ek daar beweeg, tree ek anders op en geld ander reëls. Dit is 'n slagveld van oorlewing waaruit ek te bly is om op Sondae te kan ontsnap.
 
Is dit so?
Nee!
 
Die Here se koninkryk is God se hele skepping. Jy is geroep om in hierdie koninkryk te beweeg! Jy is geroep om te dans, te speel, te skep en vol energie oor niks anders as die Here se hart te bekommer nie. (Mat. 6:33).
 
Ons wil jou uitdaag om hierdie jaar te beweeg!
 
Moenie vir ander mense wag om eerste binne die Here se speelveld te begin beweeg nie - begin jy! Moenie wag vir die regering, Eskom, die ekonomie, die stadsraad of een of ander groep om vir jou hoop te bring nie - bring jy die hoop deur jou gedagtes op die Here te fokus (Kol. 3:2). Moenie passief raak omrede alles wat jy hoor en lees negatief kommunikeer nie - raak jy aktief en maak 'n positiewe verskil.
 
Hierdie beweging begin nie buite jouself met jou dade nie. Dit begin in die eerste plek met 'n gesindheid en 'n hart wat wegbeweeg van jou grootste vyand: jou ego. Fokus hierdie jaar eerder jou binnekant op ander mense en die Here. Beweeg weg van 'n ego wat self-gefokus is na 'n plek in jouself wat dieselfde gesindheid as Jesus het (Fil. 2:5).
 
Ons kan so maklik vasgevang word in 'n kultuur van selfregverdiging. Ons kla oor die onderwysers en dring daarop aan dat my kind die A-span moet kry. Ons vereis dat ons eerste gestel moet word in die dokter se spreekkamer ten koste van ander. Wanneer ons meer geld verdien dan verhoog ons ons eie lewenstandaard in plaas daarvan om meer te gee. Ons is elke naweek vasgevang in fuifdrinkery want my eie plesier is die middelpunt van my lewe. Ons raak net betrokke by projekte en dienswerk as dit my bevoordeel.
 
Dit is tyd dat ons die kort sin van die Onse Vader, "Laat u koninkryk kom" (Mat. 6:10), werklik deel maak van ons daaglikse roetine. Hierdie kort gebed moet ons inspireer om te beweeg. Eerstens in 'n plek binne myself wat Jesus se hart die oorhand oor my ego laat kry. Tweedens na 'n plek van energie, beweging en aksie waarin die hele omgewing waarbinne ek leef 'n speelveld en dansvloer word.
 
Beweeg! Speel! Dans! Skep!
 
Wees oop vir die Heilige Gees.
Moenie wag vir iemand anders nie.
Fokus op die Here se koninkryk.
Wees die sout en die lig.
Wees die draer en skepper van hoop.
Gee meer. Hou minder.
Vergeet van jou ego. Dink aan ander.
Vertel die positiewe verhale.
Raak betrokke.
Bid elke dag.
Wees gewortel in die Woord.
 
Ons gemeente kan 'n hele gemeenskap se kultuur verander deur te begin beweeg!
 
Zander van der Westhuizen