Ons lewenspoed

geskryf deur Ds Karin Steyn
Matteus 6:30-31

Ons het reeds die jaar met ons reeks – BEWEEG - begin. Die reeks help ons om Jesus uit te leef oral waar ons beweeg. Dit nooi ons uit om ons lewe volgens bewegings in te rig sodat ons Jesus kan leef.

As ons God verstaan as ‘n God wat aktief in ons en ons wêreld aan die werk is, verstaan ons onsself ook as sy aktiewe volgelinge wat elke dag in gehoorsaamheid aan Hom leef. Hierdie reis wil ons help om in voeling te bly met God se beweging in ons in die wêreld om ons.
Voel dit dalk ook vir jou na week 1, wanneer alles en almal weer terug is in al die bekende bewegings, soos ‘n malhuis?

Markus 6 vertel van Jesus se dissipels wat beweeg het om ‘n verskil te maak. Verse 30-31 sê: “Die mense wat Jesus uitgestuur het, het na ‘n ruk teruggekom. Hulle het Jesus alles vertel wat hulle gedoen en gesê het. Maar dit was omtrent soos ‘n malhuis rondom Jesus. Jesus stel toe voor dat net hulle klein groepie saam na ‘n stil plek gaan om ‘n bietjie te gaan rus.”

Jesus wys in dié gedeelte vir ons die ritme van ‘n lewe saam met Hom. Dit is ‘n ritme van stilraak in sy teenwoordigheid, en dan weer saam met Hom uitbeweeg na die teenwoordigheid van mense.
In die hart van ons verhouding met Jesus is daar hierdie bewegings wat die lewe van God se kinders orden. Hierdie bewegings gee ons duidelike visie vir ons lewenspad, helderheid oor ons roeping en daaglikse kontak met God, waarsonder ons lewe saam met God leeg en doelloos is.

Catherine Marshall, die skrywer, het in 1959 met ‘n wewenaar getrou. Sy het haar man se drie kinders soos haar eie probeer grootmaak. In die proses het sy al minder tyd gekry om op haar skryfwerk te fokus. Sy en haar man, Len, het ook min bymekaar uitgekom. Toe begin hulle iets wat hulle die koffie-eksperiment noem. Hulle het ‘n koffiemasjien gekoop. Die aroma van geurige koffie het hulle elke oggend om sesuur wakker gemaak en dan het hulle die tydjie gebruik om die dag saam met God te begin. Na die eksperiment het sy tot hierdie gevolgtrekking gekom: “The best time for prayer isn’t found. It’s made.”

Jy sal nooit tyd vind vir stilword by God as jy nie tyd maak daarvoor nie. Die lewe sal die heeltyd dreig om jou in die maalkolk van gejaagdheid in te sluk. Maak ‘n tyd wat die beste vir jou werk.
So, terwyl ons beweeg in ons nuwe reeks en dink hoe gelowiges anders beweeg, is hierdie woorde dié week vir ons waardevol: Hoe wyer jy in hierdie lewe loop, hoe vlakker loop jy. Hoe nader jy aan God loop,hoe dieper loop jy en hoe groter verskil maak jy in en met jou hele lewe. “Slow me down, Lord. Teach me the art of taking minute vacations of slowing down to look at a flower, to chat with a friend, to see my child, to pat a dog, to read a good book.”

Mag jou besige week gevul wees met beweging saam met God.

Vrede,
Ds. Karin