Kerk = Pannekoek

geskryf deur Prop Olga Ludwick
Weeklikse boodskap
Teks: 1 Tessalonisense 5:11-15:
 
Dit was in die vakansie en een van daai koue reënerige dae. ‘n Regte boeklees-in-die-bed-dag. ‘n Pannekoekdag. Die weer het my begeester om - vir die eerste keer ooit - self pannekoek te bak.
Terwyl ek staan en kyk hoe die deeg borreltjies maak, dink ek aan ‘n blog wat ek onlangs gelees het. Die blog gaan oor die redes waarom tieners meen hulle nie kerk toe kan gaan nie. In die artikel reageer die predikant ook deur sy eie redes te gee waarom hy wél kerk toe gaan.
Dit laat my toe wonder oor my eie redes.

Redes om nie te gaan nie: soms voel dit asof die Here net nie met my wil praat nie, soms voel dit wat die Here van my vra net te veel is, soms wil ek net laat slaap en lui wees.
Maar dan is daar ook rede om te gaan …

Ek kyk na die pannekoek wat ek besig is om te bak en besef dit is ‘n gemeentelid wat my geleer het om pannekoek te bak. Dit was daardie koue dag toe die hele Wapadrand sonder krag gesit het. Die keer toe van ons sommer net opgedaag het om vir enigiemand wat krag benodig het, gratis pannekoek aan te bied. Daardie aand het nog ‘n klomp van ons ook sommer net opgedaag om vir die mense wat deurnag gewerk het om die krag te herstel, kos te vat.

1 Tessalonisense 5:11-15
11Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen.
12 Broers, ons vra julle: Erken die mense wat so hard onder julle werk en julle in opdrag van die Here lei en teregwys. 13 Betoon in liefde die hoogste agting aan hulle ter wille van hulle werk. Leef in vrede met mekaar.
14 Ons druk julle dit op die hart, broers: Wys die leeglêers onder julle tereg, praat die kleinmoediges moed in, help die swakkes, wees met almal geduldig. 15 Sorg dat niemand 'n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie. Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense.

Om kerk toe te gaan, is soveel meer as om op ‘n Sondag vir ‘n uur na die dominee te luister. Kerk is die oom en tannie wat Sondagskool gee vir die woelige kinders wat moeg stilgesit is. Dit is tannies wat teeskink en die ooms wat gekskeer met die kinders. Dit is ‘n babatjie wat agter in die kerk huil en ‘n tannie wat vir ‘n klein kindjie wat kort-kort omkyk, gesigte trek. Dis mense wat opdaag en van hulle self gee met die hoop dat ‘n ander tog God se omhelsing deur hulle bietjie gee, sal ervaar. Dis iemand wat vir ‘n vreemdeling leer hoe om pannekoek te bak.