Draai die ander wang?

geskryf deur Dr Zander van der Westhuizen
Ons lees in die Bergrede hierdie bekende woorde van Jesus:
“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ’n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe.  As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer.  Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie.” (Mat 5:38-42)

Hierdie woorde word dikwels op die oog af geïnterpreteer dat Jesus van Christene passiewe vergelding verwag. Christene moet bloot "gaan lê" in 'n situasie waarin hulle sleg gesê word of selfs fisies geslaan word. Ons neem aan Jesus bedoel dat 'n Christen 'n lafaard moet wees of iemand wat nooit vir haarself terugveg nie.

In die antieke tyd was die dominante kultuur om jou regterhand te gebruik. Jou linkerhand is geassosieer met onrein praktyke. In die samelewing is alles deur klasse beheer. Jesus noem spesifiek 'n situasie waar jy op jou regterwang geslaan word (deur iemand wat regshandig is). Dit impliseer dat die persoon jou met die agterkant van sy hand op jou regterwang slaan. Slegs iemand van 'n hoër klas sou iemand van 'n laer klas op die manier hanteer.

Deur die ander wang te draai word hierdie persoon in 'n skaakmat-posisie geplaas. Indien die persoon jou met sy linkerhand slaan erken hy 'n onrein praktyk. Indien die persoon jou met die palm van sy regterhand slaan erken die persoon dat jy op dieselfde sosiale vlak of klas as hy is.
Daar is ten minste twee lesse uit hierdie woorde van Jesus binne die konteks van die Bergrede. Moenie geweld met geweld vergeld en dieselfde spel as 'n kwaadwillige mens speel nie.

Tweedens moet jy nooit toelaat dat iemand anders op jou neersien omrede jy opstaan vir dit wat reg is nie. Staan jou persoon! Maar wees slimmer en vind maniere om die situasie met waardigheid te ontlont sonder om jou integriteit as Christen te verloor.

In die res van die gedeelte daag Jesus jou uit om meer te doen as wat van jou verwag word. Die Romeinse wette het byvoorbeeld vereis dat jy 'n Romeinse soldaat se besittings een kilometer moet dra. Jesus sê: "Dra dit twee kilometer". Jou gesindheid en goedheid sal die soldaat moontlik laat wonder het waarom jy dit doen. Hy kon selfs sleg gevoel het of self 'n les geleer het.

Jesus wil hê jy moet opstaan vir dit wat reg is sonder om 'n wêreldse spel van geweld en wraak te speel. Dit vra van ons 'n hoër morele kode en selfs 'n slimmer oplos van moeilike situasies terwyl jy iemand vir die koninkryk van God kan wen.

Om 'n Christen te wees verg meer as wat jy dink. Dit beteken nie om 'n lafaard te wees nie. Dit beteken juis om met groter waardigheid en integriteit uit 'n situasie (met veral kwaadwilliges en ongelowiges) te stap.

Onthou altyd die doel - om die koninkryk van God altyd eerste te soek.

Zander van der Westhuizen