'n Manier van die hart

geskryf deur Ds Karin Steyn
1 Joh. 4:19 Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.

Iewers in die laaste paar weke het jy seker die rooi hartjies gesien …

In die tyd voor Christus het die Romeine op 15 Februarie ʼn liefdesfees gevier. Tydens dié fees het ʼn seun die naam van ʼn dogter uit ʼn kruik getrek en dan die hele jaar by dié dogter gekuier. Daar is onsekerheid oor die presiese oorsprong van Valentynsdag. Daar was verskeie vroeë Christelike martelaars met die naam Valentyn met baie stories daarmee saam. Sommige bronne uit die 1400’s beskryf Valentyn as ‘n priester wat paartjies skelm getrou het.

Die wrede Romeinse keiser, Claudius II, wou ‘n sterk weermag bou. Hy het geglo mans is minder gewillig om by die weermag aan te sluit wanneer hulle eers getroud is en het paartjies daarom verbied om verloof te raak of te trou. Valentyn het geglo dit is onregverdig en het die paartjies in die geheim getrou. In opdrag van Claudius II is Valentyn naby Rome gevang waar hy op 14 Februarie doodgeslaan en onthoof is.

Uit hierdie stukkie geskiedenis lees ek dat iemand sy lewe vir ‘n ander gegee het omdat hy in die liefde geglo het; noem my maar ‘n romantikus!

In ons leeftyd word Valentynsdag gekenmerk as 'n dag waarop geliefdes ekstra aandag aan mekaar gee. Dis so lekker om die opgewondenheid van hierdie dag onder die kinders by die skool dop te hou. Of om te sien hoe iemand op die spesiale dag op ‘n kreatiewe manier liefde teenoor iemand bewys wat dit dalk glad nie verwag het nie. Waar staan jy met Valentynsdag? (Dalk hou die dag nie baie waarde vir jou in nie.)

Tog glo ek gelowiges kan vir ‘n oomblik by die dag stil staan en dink aan die bewegings van ons hart. Die lirieke van die lied: Break my heart for what break yours nooi ons om God se hart te leer ken. Sy hart is barmhartig, sag vir mense. Ons sien dit in Jesus se lewe: Hy was intensioneel om barmhartigheid te deel. In elke ontmoeting was Hy bewus van die bewegings van sy hart, maar ook van ander en het dan barmhartig daarop reageer.

In die Saligspreuke leer Jesus ons dat die pad na ‘n gelukkige lewe is om vir ander om te gee (om barmhartig te wees). Om barmhartig te wees, vra dat ek verby myself moet kyk, dog intensioneel in my ontmoetings bewus raak waar die ander persoon staan. Dit vra dat ek binne verhoudings aandag sal skenk aan die bewegings van my hart soos God se hart dit weerspieël en so daarop sal reageer.

Mag elke rooi hartjie jou die week hieraan herinner.

Mag jy dit waag om jou hart te deel en te voel hoe die grond om jou heilig word.

Liefde
Ds. Karin