In die skadu van die kruis

geskryf deur Prop. Olga Ludwick
Soms raak ons besig. Ons raak baie besig met die praktiese dinge van die lewe – kinders by hulle honderde aktiwiteite kry; kos maak; inkopies doen; by sperdatums hou; saam met familie en vriende kuier; die lys gaan aan. Hierdie dinge hou ons so besig dat ons dikwels te gedaan is om ook nog ‘n plek vir God te vind. Dis nie dat ons nie bid of Bybel lees nie – dis mos ook een van die praktiese dinge van die lewe – maar eintlik is dit juis dit. Ons verhouding met God word nog ‘n ding om af te tiek, in plaas van ‘n prioriteit.

Lydenstyd, waarin ons nou is, help ons hiermee. Dit help ons om weer na te dink aan ons verhouding met God en om hierdie verhouding meer as net ‘n taak wat afgetiek moet word, te maak.

So, hoe werk dit? Wat doen ons om weer erns te maak met ons verhouding met God. Lydenstyd het begin met Aswoensdag. ‘n Dag wat ons ons eie gebrokenheid en verganklikheid in die oë kyk. Soos wat daar ‘n stof-kruis op ons geteken word onthou ons die woorde van Genesis 3:19b “…ja, stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”
 
Die kruis wat op ons geteken word, herinner ons aan iets groter. Dat Jesus ons vrygekoop het en dat daar meer is as net die lewe vol van praktiese dinge.

2 Korintiërs 4:6-10
‘God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal. Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie. Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam.’
 
Dít is die punt van Lydenstyd. Ons word gereed vir die belangrikste fees van ons Christelike jaar. Paasfees. Ons besef weer dat met ons hele lewe, leef ons in die skadu van Christus se kruis. Ons onthou dat ons ‘n God aanbid wat werklik vir ons omgee. So baie dat God mensgeword het en al die vreugde en pyn van menswees kom ervaar het. ‘n God wat so baie omgee, dat hy self vir ons ‘n nuwe werklikheid kom oopbreek het. Een waarin ons met hoop kan lewe.
Baie mense gee in Lydenstyd iets prys. Iets wat vir hulle belangrik is. Ons doen dit juis sodat, elke keer wat ons vir dit sou reik, ons, ek en jy, jouself kan herinner aan die lig van God wat in jou lewe skyn.

Rend your heart: A blessing for Ash Wednesday - Jan Richardson
To receive this blessing, all you have to do is let your heart break. Let it crack open. Let it fall apart so that you can see its secret chambers, the hidden spaces where you have hesitated to go. Your entire life is here, inscribed whole upon your heart’s walls: every path taken or left behind, every face you turned toward or turned away, every word spoken in love or in rage, every line of your life you would prefer to leave in shadow, every story that shimmers with treasures known and those you have yet to find. It could take you days to wander these rooms. Forty, at least. And so let this be a season for wandering, for trusting the breaking, for tracing the rupture that will return you to the One who waits, who watches, who works within the rending to make your heart whole.

Die reis het met Aswoensdag begin, maar dit duur voort. Mag jy in hierdie tyd bewus wees van jou eie broosheid, maar ook die krag van die kruis wat elke dag in jou lewe teenwoordig is. En mag hierdie wete jou verhouding met God meer maak as net nog iets om af te tiek.

Amen.