Net soos Hy...

geskryf deur Ds Karin Steyn
Jesus was ‘n man vir spesiale ontmoetings. Soos ons Sy voetstappe volg deur die Nuwe Testament sien ons hoe Hy oral waar Hy gaan in elke dorpie nuwe ontmoetings het. Hy was nie skaam om met mense te gesels nie. Enige iemand – maak nie saak wat hulle status was nie. Hy het gestop en gesels.

Hy sien die vrou by die put raak, die man in die boom, die verlamde by die bad, die vrou wat aan hom raak tussen ‘n skare mense en die melaatses buite die dorp se grense. Daar is nog baie sulke verhaleen hulle is almal neergeskryf omdat mense diep aangeraak was in hulle ervaring van Hom.

My gunsteling ontmoeting, wat ek vanaf kleintyd lees, is tussen Jesus en Saggeus. Toe ek jonk was het ek dalk net gehou van die storie van die kort mannetjie wat in die boom klim en Jesus wat hom raaksien as hy opkyk. Soos ek ouer word, het hul onmoeting om Saggeus se etenstafel al hoe meer uitgestaan. Want dáár het iets gebeur. Jesus se woorde en teenwoordigheid verander Saggeus se menswees en uitkyk. Soos in ander verhale, wys die verhaal van Saggeus dat dit spesiaal was om net in Jesus se teenwoordigheid te wees en dat gesprekke met Hom lewens verander het.

Dit laat my die week wonder oor die energie wat ons afgee oral waar ons leef. Die tipe gesprekke wat ons kies om te voer. Die manier waarop ons mense raaksien en hulle hanteer. Sosioloë sê: “Your energy introduces you before you even speak”.

Wat ervaar die petrol-joggie en die teller in die winkel as jy verby hulle leef? Watter gevoel leef in jou vriende as julle saam gekuier het? Hoe ervaar jou kollegas dit om saam met jou te werk? Hoe lyk jou teenwoordigheid in jou gesin? Ek dink dié is vrae om vir ‘n oomblik by stil te staan en self-ondersoek oor te doen.

Ons land is deurmekaar en ons mense kwaad en dis nie sonder rede nie. Tog dryf ons geloof ons om teen ons kultuur en tyd op te tree. Ek kuier laas week by ‘n baie ou tannie in ‘n aftree-oord. In ons gesels, sê sy vir my: “Ai Karin, mense is kwaad…as ons almal maar net kan probeer om lekker mense te wees.” Ek giggel lekker vir haar woordkeuse. Maar vandag – soos ek hier sit en tik is dit ook mý wens: Mag ons almal probeer om lekker mense te wees!
 
Want op die ou end is dit God wat deur ons dade en liefde aan die woord moet kom.

“Watch what God does, and then you do it,
like children who learn proper behaviour from their parents.
Mostly what God does is love you. Keep company with him and learn a life of love.
 Observe how Christ loved us. His love was not cautious but extravagant.
He didn’t love in order to get something from us but to give everything of himself to us.
Love like that.”


Ef 5:1-2
Seën vir die week!