Gee julle iets vir hulle

geskryf deur Ds Wouter van Wyk
Mense hou nie normaalweg daarvan om swaar te kry nie. Die uitsondering hierop is fietsryers en marathonatlete, maar kom ons tel hulle nie op hierdie oomblik nie. Dit is normaal vir mense om swaarkry te probeer vermy. Maar vermyding van swaarkry kan iets anders tot gevolg hê. Dit kan maak dat ons in ‘n kultuur van skaarsheid verval. Die kultuur van skaarsheid is die oortuiging dat daar nie genoeg vir almal is nie. Dat ek sal moet vinniger en beter as ander mense wees, sodat ek vir myself kan sorg.

Ons vrees vir swaarkry, vir te min hê of om nie genoeg te hê nie, motiveer ons om in hierdie wêreldbeeld in te koop. Dit maak dat ons opgaar, bewaar en bêre, want enige oomblik kan dit van ons weggevat word, en dan het ons niks. Niks lei tot swaarkry. En niemand hou van swaarkry nie.

Die wonderwerk van die vermeerdering van die brood kan daarom ons verbeeldings bietjie strek.

Daar is baie dinge in die teks wat uitspring.

Jesus het hulle “innig jammer gekry”. Jesus sien die swaarkry van mense raak – en dit doen iets aan Hom. Dit roer Hom. Dit bring Hom tot aksie. Hy maak mense gesond en Hy leer hulle oor die dinge van die koninkryk van God.

Wanneer sy dissipels besef dat die mense honger is en dat hulle sal moet huis toe gaan, is Jesus se reaksie verrassend.

Ons kan lank oor die wonderwerk dink. Hoe het dit fisies gebeur? Wat was die bedoeling daarvan? Wat my oog vang is dat hy vir die dissipels vra dat hulle sal kyk wat hulle klaar tot hulle beskikking het.

Ons trap ook gereeld in die strik dat ons uit vrees leef. Dat ons bang is, dat ons ons oë na die hemel rig en vra waar ons hulp vandaan kom? Jesus nooi ons om te kyk wat ons klaar het.
Die eerste deel van die wonderwerk hier was dat hulle reeds alles het wat hulle nodig gehad het. God gebruik dit wat ons reeds het om iets ongelooflik reg te kry. Die tweede deel van die wonderwerk was dat hulle dit wat hulle gehad het, gedeel het.

In ‘n tyd waar ons dink oor Jesus se lydingspad op aarde is dit dalk vir ons nodig om ook te kyk wat ons het. En om dit te deel. Want God het die eienaardige vermoë om dit wat ons deel, te vermeerder. Die klein gebaar van ‘n kospakkie vermeerder tot iemand se ervaring van genade. Die klein gebaar van ‘vergifnis’ vermeerder tot ‘n beter verhouding. Die klein gebaar van ‘troos’ vermeerder tot ‘n ervaring van dieper konneksie met ‘n ander mens. Die klein gebaar deur net op te daag by ‘n erediens, ‘n byeenkoms, ‘n kuier, ‘n sportgeleentheid, vermeerder tot die gevoel van samehorigheid en eensgesindheid. En dit skep hoop.

Mag jy ook kyk na wat jy het. Mag jy sien hoe God skaarste in oorvloed verander. Mag jy beleef hoe God deur jou hande wonderwerke doen.

Genade en vrede