Die uitnodiging

geskryf deur Prop. Olga Ludwick

Stel jou voor Jesus kom eet by jou. Wat sal jy vir hom gaarmaak? Waar sal julle aansit? Sal jy jou Carol Boyes messegoed blink vryf vir die geleentheid? Of sal die geleentheid dalk te groot wees om by jou huis te hou?

Jesus het graag saam met mense geëet. Aan hoeveel mense kan jy dink?
Een só besonderse verhaal van Jesus wat saam met mense eet, lees ons in Markus 2:13-17.

Jesus het weer na die see toe gegaan. 'n Hele menigte mense het na Hom toe gekom, en Hy het hulle geleer. Toe Hy by die tolhuis verbygaan, sien Hy vir Levi seun van Alfeus daar sit, en Hy sê vir hom: “Volg My!” Levi het opgestaan en Hom gevolg. Daarna het Jesus in Levi se huis gaan eet. Baie tollenaars en sondaars was saam met Hom en sy dissipels aan tafel, want daar was baie van hulle wat Hom gereeld gevolg het. Toe die skrifgeleerdes onder die Fariseërs sien dat Hy saam met sondaars en tollenaars eet, het hulle vir sy dissipels gesê: “Waarom eet hy saam met tollenaars en sondaars?” Jesus het dit gehoor en Hy sê vir hulle: “Dié wat gesond is, het nie 'n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.”

Die verhaal se krag lê nie in die mondwaterende ete nie. Die krag lê in die vraag wat die verhaal kom antwoord: “Wie is Jesus?”

Jesus het groot oproering gemaak toe hy saam met Levi eet. Levi was ‘n sondaar. Hy was ‘n ‘bad guy’. Vir die mense van daardie tyd was `n tollenaar gelyk aan oneerlikheid. Daaroorteen was Jesus – wel - hy was Jesus! En die reëls van daardie dae was duidelik: goeie mense eet nie saam met slegte, sondige mense nie, want net-nou kry hulle van die se sonde op hul eie hande. Om saam te eet beteken dat jy ‘n band smee van vertroue en vriendskap.

Tog het dit nie Jesus afgeskrik nie. Jesus het in die verby stap hierdie slegte man gesien en twee klein woorde vir hom gesê. Woorde wat sy hele lewe kom omkeer het. ‘Volg my!’

Ek weet nie of Levi eintlik al lank na iets anders gesmag het nie. ‘n Ander tipe lewe oorweeg het nie. Ek wonder of hy nie dalk gewonder het of Jesus te goed is vir hom nie.

Hierdie vrae kom nie by Jesus op nie.

Jesus kom en reik ‘n uitnodiging aan hom uit en Levi aanvaar dit.
Jesus ontmoet Levi waar hy is. Hy het nie nodig om eers ‘n klomp goed in plek te kry nie. Jesus ontmoet hom net soos wat hy is, en los hom nie daar nie.

Die antwoord op die vraag “Wie is Jesus?” – Jesus is die een wat ‘n uitnodiging aan sondaars rig. Hy is die een wat lewens verander. Hy is die een wat ook aan jou die uitnodiging rig: ‘Volg my!’