Die lewe is ‘n sirkus…en ons het elkeen ons eie apies.
geskryf deur Ds Karin Steyn
“Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus.” – Gal 6:2
Familie. Wat beteken dié woord vir jou?
Is dit dalk die groep mense tussen wie jy geborge voel? Die plek waar jy inpas en liefde ervaar? Of is dit dalk die vreemdste groep mense en jy kon nog nooit verstaan hoe jy hier inpas nie?
In die laaste ruk het ek lekker gelag vir boodskappies wat tussen vriende op sosiale media rondgestuur is. Juis omdat mens so lekker daarmee kan vereenselwig. Soms as iets vreemds gebeur sal iemand sê: “Not my circus, not my monkeys”. Maar die week in ‘n moeilike situasie gebruik ‘n vriendin van my die gesegde ander kant om: “This is my circus, AND my monkeys.” In die oomblik begin my gedagtes sommer rol oor familie-wees. Oor wat dit beteken om jou lewe met ander te deel.
Familiewees is kompleks. Dis nie ’n dooie organisasie of ’n blote struktuur nie. Dis ’n lewende organisme. ’n Dans tussen ’n paar mense wat probeer om saam ritme te hou op die meestal chaotiese, onritmiese dansbaan van hierdie lewe. Soms kry ons dit reg. Soms glad nie. Die essensie van dans en saam ritme hou is om te kan laat gaan én vas te hou. Om soms nader te tree en ander kere afstand te hou.
Ons kan eers werklik vashou as ons kan leer om te laat gaan. As ons hierdie ritme van laat-gaan-juis-om-te-kan-vashou kan aanleer, kweek ons in ons families dalk die ruimtes van onvoorwaardelike liefde waarna ons so smag. Die Latynse woord familia kom van die woord famulus wat “dienaar” beteken. Hierdie oorsprong van die woord leer ons as gelowiges al klaar baie.
Iewers hierdie langnaweek gaan jy dalk kuier saam met jou mense. Dalk is dit jou “nuwe familie”, nie gevorm uit DNS nie, maar juis omdat Sy bloed toe dikker as water is. Mag jy onthou dat dit die grootste voorreg bly om jou lewe met ander te mag deel. Gaan wees self ‘n goeie wandelende preek vir jou geliefdes.
Lees saam met my die kragtige woorde van Kahlil Gibran wat die kompleksiteit van familiewees soos ’n mooi dans en ’n fyn kuns voorhou:
“Laat daar ruimtes wees in julle samesyn.
En laat die winde van die hemele tussen julle dans.
Min mekaar, maar moenie van liefde boeie maak nie.
Laat dit eerder soos ’n beweeglike see wees tussen die oewers van julle siele.
Vul mekaar se bekers, maar drink nie uit een beker nie.
Gee mekaar van julle brood, maar eet nie van dieselfde baksel nie.
Sing en dans tesame en wees bly, maar laat elkeen van julle alleen wees.
Gee julle harte, maar nie die een in bewaring van die ander nie.
Want slegs die hand van die Lewe kan julle harte vashou.
En staan bymekaar, maar tog nie te na aan mekaar nie:
Want die pilare van die tempel staan apart, En die Eikeboom en die Sipres groei nie in mekaar se skaduwees nie.”
Leef jou praat, jou familie kyk na jou!
Vrede en rus,
Ds. Karin