Die groot dieet

geskryf deur Ds Wouter
1 Petrus 2:1-10

Ek haat dit om op 'n dieet te wees. Ongelukkig is dit ook so dat ek na 'n langnaweek van lekkers, koekies en koek, nie veel van 'n keuse het nie. Maar genugtig, dis moeite. Die vroeg opstaan om “gym” toe te gaan. Alles uit jou dieet uitsluit wat lekker is. Alles insluit wat sleg is. En dit alles net om 'n paar kilogram te verloor.  Ten spyte hiervan doen baie mense dit baie gereeld. Want die motivering om anders te lyk, anders te voel, anders te wees, is goed genoeg.

In die Skrifgedeelte was daar ook sprake van 'n dieet. 'n Geestelike dieet. Die skrywer wou sy lesers aanmoedig om steeds getrou aan hulle dieet te bly, deur kosse soos kwaadpratery, bedrog, huigelary en jaloesie uit hulle diëte te sny, en voort te gaan met 'n dieet van geestelike melk. Hierdie dieet sou hulle volwasse en fiks maak om die volheid van hulle saligheid te waardeer.  Met ander woorde, hy verstaan dat hulle op 'n dieet moet gaan, want uiteindelik gaan hulle daardeur groei. Dit moet hulle motivering wees.

Maar hulle, net soos ons, sukkel om by hierdie dieet te bly. Ons sukkel om te vergewe. Ons sukkel om nie te skinder nie. Ons sukkel om die goed in mense raak te sien. Ons sukkel om gereeld geloofsgesprekke te hê. Om gereeld te bid. Om gereeld Bybel te lees.
Maar soos met ‘n regte dieet, is daar ‘n geheim. En die geheim is: kyk hoe ver het jy al gevorder! Hoe verder ‘n mens in ‘n dieet is, hoe makliker raak dit, want jy begin die vordering sien. Met elke gram wat afgetel word, besef jy daar is vordering en verandering. Dit is waarom baie mense doelbewus dagboek hou van waar hulle begin het.

Ek dink dieselfde geld vir ons geloofslewe. Die vordering is baie duidelik. Dit is ook wat die skrywer in vers 10 vir ons probeer sê:

10Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys.

Vroeër was ons alleen, nou is ons deel van God se volk. Vroeër was ons sonder genade, nou het ons dit reeds. Nie een van ons sou andersins in verhouding met God kon staan nie, maar nou kan ons deur Jesus Christus. Ons was vroeër verlore, maar is nou gevind. Dit is die vordering wat ons alreeds gemaak het. En dit is aansienlike vordering. Ja, natuurlik struikel ons ook maar met tye. Maar dan moet ons nie ophou met die dieet nie. Ons moet eenvoudig weer probeer!

Mag jy hierdie week weer opnuut werk aan jou geestelike dieet. Mag jy nee sê vir alles wat in jou lewe sleg en ongesond is. Mag jy in die lig leef wat Jesus gee en mag dit vir jou die motivering wees waar jy ook al op jou geloofsreis is. Mag jy daagliks herinner word aan die ongelooflike vordering wat ons deur Jesus Christus maak.

Genade en vrede
Ds Wouter