Asem

geskryf deur Zander van der Westhuizen
Prof Chris de Wet bied een keer per maand saam met my 'n program op die radio aan. Ons gesels oor die Bybel. Die afgelope Sondagaand het ons op die ontstaan van die Nuwe Testament gefokus. Chris is 'n kenner op dié gebied. Hy verduidelik die kompleksiteit van die ontstaan van dit wat ons die "kanon" noem. Ons gesels oor die tydperke, die fisiese papirus waarop dit geskryf was, die invloed van die mondelinge tradisies en hoe dit uiteindelik organies ontwikkel het in wat ons vandag as die Bybel ken. Redelik 'n akademiese gesprek. Ek weet.

Aan die einde van die uur hanteer ons vrae. Die ooglopende vraag land toe op die tafel: "Hoe is die Bybel dan deur die Here geïnspireer?". 'n Goeie vraag vir 'n Christen. Een wat jy behoort te vra na al die akademiese inligting oor hoe die proses gewerk het.

Chris stel 'n teenvraag: "Wat bedoel ons met inspirasie?". Dit is óók 'n komplekse gesprek. Ons weet, want Christene het al hieroor gedink en verskil al vir eeue.

Die Bybel as sulks, die boek, die gedrukte woorde - is vir die gewone waarnemer 'n "gewone boek". Baie lees dit, maar nie elkeen wat dit lees glo in die Here nie.

Eers wanneer jy die Bybel lees en die Heilige Gees met jou werk, kry die woorde lewe. Dit sou ook van die skrywers gesê kon word. Sonder die Heilige Gees se werk was dit net nog geskrewe teks. Die Heilige Gees gee aan skrywers en lesers inspirasie.

Daar is oulike woordspeling met inspirasie. In-"spirit". In-die-Gees.

Terwyl ons op die lug was ontdek ek en Chris in ons gesprek 'n beter metafoor. Inspirasie is om asem in iets in te blaas. Soos die Here aan die begin asem in die mens ingeblaas het, so blaas Hy deur Sy Gees asem in die Woord in. En deur die proses blaas Hy as't ware nuwe asem in jou in.

Ons kan baie keer in debatte verval oor die Bybel as 'n boek. Die gesprekke se fokus is naderhand net op die bladsye, die woorde, die taal en die lees en verstaan van skrywers. Ons word soms ingetrek in die kerk in 'n tipe "biblisisme" (basies 'n fancy woord vir ons "vereer die boek").

Die asem kom nie uit die boek uit nie. Dit asem kom uit die Gees uit. Die Bybel leer ons oor die Here. Geloof in die Here is die punt. Om te leef soos Jesus geleef het kan net gebeur as daar genoeg asem in jou ingeblaas is om lewe te hê.

Dit is Pinkster.
Dit is 'n tyd om op die asem van God te fokus.
Mag jy vol lewe geblaas word in hierdie seisoen.


Zander van der Westhuizen