Wat maal in jou kop?

geskryf deur Zander van der Westhuizen
Ons lewens is saamgestel uit stories. Ons eie én ander s’n. Stories oor dit wat óm ons gebeur en mét ons gebeur. Die stories van ander laat ons ook dikwels dinge in ons eie stories bevraagteken. In dit alles, deel ons ook ‘n groter storie.

Die laaste ruk voel dit vir my asof ‘n klomp van ons besig is om ‘n hoofstuk van frustrasie, mismoedigheid, wanhoop en woede te skryf.

Die dinge wat rondom ons gebeur kan maklik ‘n mens laat magteloos voel. Die vraag is dan, hoe reageer jy? Alhoewel daar sekere dinge is wat om ons gebeur, is jou storie steeds dit wat jy daarvan maak.

God het ons elkeen gemaak met ‘n sekere dryfkrag. ‘n Spesifieke instink. ‘n Sekere manier van na die wêreld kyk en dink oor dinge. Efesiërs 4:11 En dít is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, herders en leraars.

In hierdie tyd na Pinkster, raak ons opnuut bewus van die verantwoordelikheid waarmee Christus ons gelos het. Dat ons elkeen sekere dinge het wat ons aan trek. Dinge wat ons gedagtes vul. Vrae wat oor en oor in jou kop maal. Gebeure om jou wat jou hart ruk en jou voete laat beweeg òf jou hande laat uitruk. Dit is nie toevallig so nie. Efesiërs 4:12 Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus.

Die dinge wat jou aantrek verklap iets van die gawe wat God vir jou gegee het. Dit los jou ook met ‘n klomp vra. Wat maak my kwaad? Waarvoor breek my hart? Waarheen nooi God my uit? Wat kan die implikasies wees indien ek God se roepstem antwoord? Òf as ek dit nie antwoord nie?  Is dit die moeite werd vir my?

Elkeen van ons het ‘n storie om te skryf. Een wat van die uniekheid waarmee God jou gemaak het, getuig. Elke gawe is belangrik, want alhoewel ons besig is met ons eie stories, is ons ook besig met ‘n groter storie.

Mag die woorde van die Ou Franciskaanse seën vir jou die moed gee om die vrae wat God op jou hart druk te ondersoek:

Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde, halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings, sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef.
Mag die Here jou seën met woede oor onreg, onderdrukking en die uitbuiting van mense sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede.
Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar sodat jy ’n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap kan verander.
En mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo dat jy ’n verskil kan maak in hierdie wêreld, sodat jy dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie.

Amen.