'n Ode aan daardie lidmaat

geskryf deur Dr Zander van der Westhuizen
Die oond vat langer om warm te word in die winter. Sy stel dit altyd 190℃ dan weet sy die temperatuur is reg. Dit is haar ma se koekie-resep. Werk soos 'n droom.

Sy pak die meel, die suiker, die botter en al die vuil skottelgoed gou weg. Sy hou daarvan dat haar huis netjies bly want daar stap altyd mense by haar in om te kom kuier.

Sy het 25 minute vir haarself voor die laaste baksel klaar is. Die stoel teen die venster is haar gunsteling. Dit kry goeie son hierdie tyd van die oggend en is naby die tafeltjie met haar Bybel op. Sy maak haar oë toe en bid: "Here, dankie vir nog 'n dag. Wees asseblief saam met Linda wat vandag geopereer word. Wees asseblief saam met die arme mense wie se familie op die plaas vermoor is. Help asseblief vir suster Marie se seun wat vandag eksamen skryf en vergewe my van al my sondes. Amen".

Sy maak haar Bybel oop en lees uit Johannes 2: "Maar Hy het Hom nie op hulle verlaat nie, omdat Hy geweet het hoe hulle almal is. Hy het nie nodig gehad dat iemand Hom iets van ’n mens vertel nie, want Hy het self geweet hoe mense is." Sy maak die Bybel toe en dink by haarself - die mens het so vol eiegeregtigheid geword.

Almal het hierdie week vir haar goed aangestuur oor Woolworths, versies wat oordeel, LBGT... (sy kan nie die akroniem mooi onthou nie), boikotte en video's van predikers en skrywers wat uitvaar oor allerhande mense. Sy hou die Rapport op een plek op haar boekrak. Amper elkeen is vol van kerkleiers wat baklei en stry. Dít en Eskom. Donker en donker. In plaas van Lig en lig.

Die lewe is nie altyd so swart en wit nie, dink sy. "Ek het lankal geleer dat daar moeilike goed is in hierdie lewe wat jy nie met 'n enkele Bybelvers buite konteks kan oplos of deur te baklei daaroor enigsins iemand gaan oortuig nie." Wat sy ook nie verstaan nie is dat mense kan dink dat om sulke boodskappe en video's aan te stuur nou werklik mense nader aan die Here gaan bring. In haar ervaring is dit veiliger om liefde te kies.

Nou die dag was sy by die Bybelstudie en Willemien het so aangegaan oor die kerk. Sy het gekla oor alles. Van die toiletpapier wat dunner geword het, die kinders wat nou heeltemal te veel in die erediens is en die predikant se klere tot by die parkering.  Willemien is nou moeg na Sondae want daar is soveel mense by die kerk dat sy al hoe verder weg moet parkeer.

Sy wou vir Willemien vra of sy dan eintlik wil hê die kerk moet kleiner word toe Zureka haar voorspring en vra hoekom sy dan so ver kan stap as daar 'n uitverkoping by die groot Pick & Pay in Faerie Glen is. Dit was bietjie van 'n lae hou.

Die oondklokkie lui. Sy staan op en loop verby die koffietafel na die oopplan-kombuis. Sy maak die oonddeur op 'n skrefie oop. Die koekies kan nog 2 minute gaan.

Haar foon lê op die toonbank. Daar kom 'n Whatsapp-boodskap deur. Sy lees en sien sy skink Sondag tee. Sy antwoord met 'n "thumbs up". Sy blaai na die kerk se "app". Sy hou van hierdie nuwe digitale era. Sy het altyd al die kerk se blaadjies verloor tussen haar twee Bybels en 'n Liedboek. Nou is alles op een plek. Plus dit is nie meer so aaklig lelik in swart en wit nie. Die kalender wys dit is eers weer volgende week Bybelstudie. Sy is bly. Een week sonder Willemien se gekla, dink sy. "Jammer, Here", bid sy vinnig hardop.

Sy loop terug na die oond. Die vierde baksel koekies is nou reg. Sy haal dit uit met haar pa se ou oond-handskoene. Hy was lief vir soetgoed. Dit moet eers afkoel. Sy sit dit langs die ander by die venster.

Sy staan sommer net daar en maak haar gebed klaar: "Here, vergewe my as ek soms te veel van myself dink. Help asseblief die dominees, die onderwysers, die skoolhoofde en die regering se mense met hul werk. Wees asseblief vandag by Rina as sy hoor van haar kanker. Help al die mense wat worstel met hulself en vergewe asseblief die mense wat so baklei met mekaar in die kerk. Amen".

Sy pak vier sakkies vol koekies. Een vir Rebekka wat op 'n Donderdag haar wasgoed kom was en stryk. Haar seun se vrou is dood. Een vir die vrou wat gister langs haar by die saal gesit en huil het tydens die konsert. Ek weet nie wat is fout nie, maar Pieter weet sy bly in 103. Een vir klein Albert se vyfde verjaarsdag. Die kind word tog so vinnig groot. En een vir die kerk se terreinbestuurder en sy werkers. Sy kon sien die terrein lyk spoggerig en hulle moes hard werk.

Sy weet nie altyd wat om vir mense te sê as dit moeilik gaan nie maar sy kan bak. 'n Mens kan nie net sit en niks doen nie - 'n mens moet 'n bydrae lewer as jy jou jouself 'n Christen wil noem. Dit was nog altyd haar leuse. Deesdae is dit moeilik, dink sy. Die wêreld verander. Jy moet net fokus op dit wat jy nou kan beteken en jou nie te veel steur aan mense se gekla nie. Daar is baie om te doen.

Twee koekies het nie mooi genoeg uitgekom na haar sin nie. Sy druk albei in haar mond, gryp haar sleutels, sit die vier sakkies koekies in 'n bierboks en trek die voordeur agter haar toe.