Opreg

Geskryf duur Karin Steyn
“WEES DAN OPREG…SOOS DIE DUIWE.” -MATTEUS 10:16

Daar is darem niks soos kinderlike eerlikheid nie. Hulle sê ‘n ding net soos wat hulle dit sien. Ek dink elke ouer kan oulike-absoluut-eerlike stories vertel uit die mond van hulle kleuters. So bietjie later in die lewe leer ons dat daar ‘n groot verskil is tussen reg wees en opreg wees.

My oupa het altyd gesê: ‘n Opregte mens is ‘n goeie vriend. Hy sal ‘n oorlog saam met jou veg en selfs al draai jy jou rug na hom, sal hy jou nie te na kom nie. Opregtheid dra soveel gewig – al is dit nie iets wat ons eerste oog opslag sien nie.

Die Bybel leer ons van opregtheid, veral saam met die Heilige Gees. In die Bybel word die Heilige Gees soms as ‘n duif voorgestel. Ongeveer ses weke nadat Jesus in die Jordaanrivier gedoop is, het Johannes die Doper die volgende getuig: “Ek het die Gees soos ʼn duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op Hom gebly” (Joh 1:32). Al vier die evangelies praat van die Heilige Gees wat op Jesus neerdaal “soos ‘n duif” (Mat 3:16; Mark 1:10; Luk 3:22; Joh 1:32).
Waarom ‘n duif?

Ons weet uit die Ou Testament uit dat ‘n duif een van die enigste voëls is wat geoffer mag word en dat arm mense wat geen ander dier kon bekostig, gewoonlik ‘n duif geoffer het. Daar was dus geen pretensie aan ‘n duif nie.

As Jesus self praat sê Hy: ‘Wees opreg soos duiwe’. Die woord opreg, “sincerus”, beteken “without wax”. Dit was ‘n kunsterm waar gebreekte kuns vinnig met was reggemaak is en dan verkoop word. As jy belangstel om te koop sou jy vra: “Is hierdie stuk sonder was of “genuine”?” Indien die stuk nie oorspronklik is nie of vinnig reggemaak, word verwys na ‘n kopie, replika of rekonstruksie.

Soms is ons lewens nie ‘n opregte kunswerk nie, maar ‘n replika. Hierdie woorde wys ons dat Jesus ons wil leer om opregte mense te wees. Sodat ons nie hoef voor te gee, in ons samelewing nie.  

Hoe lyk opregtheid hier waar ons leef? Ek dink ons sukkel daarmee. Die wêreld wys vir ons ‘n ander reaksie en manier van doen. Dis mense waarby daar ooreenstemming is tussen hulle innerlike en uiterlike. Dis mense wat tyd gee aan hulle binne wêreld. Jy speel nie toneel nie. Die realiteit is jy kan nie bepaal hoe ander teenoor jou optree nie, maar jy het altyd ‘n keuse hoe jy daarop gaan reageer.

Hierdie volgende woorde sê Jesus van Homself, maar wanneer sy Gees ons vernuwe, mag dit ook vir ons geld: “Hy wat uit homself spreek, soek sy eie eer; maar Hy wat die eer soek van die Een wat Hom gestuur het, is waaragtig en daar is geen ongeregtigheid in Hom nie.”-Joh 7:18

Heilige opregtheid beteken: Nie meer ek nie, maar Hy in my en ek in Hom.
Mag daar elke dag meer van Jesus in ons sigbaar word!
Hoop jy kyk die week met ander oë na elke duif om jou.
Amen.
Ds. Karin