U deurgrond my

geskryf deur Ds Wouter van Wyk

Psalm 139

Ken jy daardie gevoel wanneer jy jou skoene uittrek nadat jy ‘n dag lank in die tuin gewerk het? Ek praat nie van die moegheid nie. Ek praat van daai gevoel wat jy kry van die grond wat in jou sokkies ingewurm het. Jy voel dit sommer so tussen jou tone. Dikwels is daar selfs ‘n lyn van stof daar waar jou sokkies die dag deurgebring het. Ek wonder of daar ‘n woord is vir daardie gevoel. Vir my persoonlik is dit nie ‘n slegte gevoel nie. Vir my is dit die bewys dat ek die dag aan die natuur verbind is. Dit is die herinnering dat ek en grond eintlik een is.

Die woord wat ek in die Bybel lees het wat my aan hierdie gevoel laat dink, is die woord “deurgrond”. Natuurlik was dit nie Totius se bedoeling gewees dat jy aan jou vuil voete moet dink toe hy die woord gekies het in die 1933 vertaling van Psalm 139 nie. Tog was dit die onsinnigheid waaraan ek gedink het, terwyl ek onlangs weer die teks gelees het.

Wat beteken “deurgrond”? Die nuwer vertalings verkies “ondersoek” of “sien dwarsdeur”. Die intensie is duidelik. God is oral en sien alles. Maar nie in die opsig wat dit gebruik word om kinders bang te maak nie bv.– “Moenie steel nie Sannie, Jesus sien alles”. Dit is eerder ‘n getuienis dat God ons ken. God ken ons harte. God ken ons vrese. God ken ons behoeftes. God ken ons menswees. Want hy het ons (uit grond) gemaak. Ons hoef nie verskoning te maak nie. Ons hoef nie onsself op te dons nie. Ons hoef nie voor te gee om iemand anders te wees nie. Ons kan met ons twyfel, ons onsekerheid en gebreke voor God staan – Hy sien ons raak. Ons hoef niks vir God te verduidelik nie. Al is ons deurmekaar of altyd laat. Al sukkel ons om as gesin saam aan tafel te sit a.g.v. besige skedules. Al skarrel ons om by alles uit te kom. Al weet ons ons spandeer te min tyd in stilte en kalmte.

Dit maak nie in hierdie oomblik saak nie, sê die psalmdigter. Want God ken dit. God verstaan dit. God het ons gemaak. God deurgrond ons.  

Hierdie gedagtes het deur my kop gegaan terwyl ek saam met ‘n handjievol tieners op die strand stiltetyd gehou het tydens die uitreik. Dit was na ‘n week se harde werk by ‘n kinderhuis in Mosambiek. Almal van ons het elke dag vuil by die huis gekom. Met min water om onsself skoon te kry. Maar die Here was baie goed vir ons gewees. Die Here het tussen ons beweeg. Die Here was in elke verfspatsel en modderkol. Hier op die strand, vir omtrent ‘n uur, het ons kans gekry om op die sand (of seegrond) alleen in stilte te sit, die natuur te bewonder, en na te dink oor hierdie teks van Psalm 139.
“Here, U deurgrond en ken my.” (Ps 139:1 – 1933 vertaling)
Die Here ken ons. Of ons grootword in die ooste van Pretoria of in ‘n kinderhuis in Matola.
Die Here werk deur ons. Of dit by die huis in die tuin is, of op die strand in Ponta do Oura.
Die Here sien ons waarde. Of jy ‘n tiener is wat nog baie van die lewe moet ervaar of iemand is wat al baie dinge gesien en beleef het.

Die Here werk met hulle daar onder op die strand, en met my bo op die duin. Die Here se liefde is bedoel vir die kinders sonder ouers en vir die ouer mense sonder kinders. En ons is almal aan mekaar verbind. Want ons is almal uit die grond gemaak en leef met die Here se asem in ons longe.
“Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie.” (Ps 139:6 - 1933 vertaling)

Genade en vrede