Donker en Lig

Geskryf deur Prop. Olga Ludwick
Ons kyk so dikwels na die nuusopskrifte en wonder wat word van die wêreld. As jy braaf is en die kommentaar daarop lees, dan wonder jy nie eers wat van die wêreld word nie, jy weet sommer dat dinge in die wêreld baie stukkend is.
As gelowige, lees ek die dinge en wonder wat dit vir ons as gelowiges beteken. Moet ek in ‘n hopie sit en huil? Moet ek my sake in orde kry? Of moet ek iets probeer doen?

Die antwoord op die vrae is ja. Ons harte moet breek vir die stukkend en seer wat ons rondom ons sien. Maar dit eindig nie daar nie. Ons lewe nie in wanhoop nie, maar met ‘n onverklaarbare hoop omdat ons ‘n God aanbid wat groter is as al hierdie dinge.

“Do not be dismayed by the brokenness of the world. All things break. All things can be mended. Not with time, as they say, but with intention. So go. Love intentionally, extravagantly, unconditionally. The broken world waits in darkness for the light that is you.” L.R. Knost

Omdat ons lewe met ‘n bewustheid van God en die wete dat God dinge moontlik maak wat ons nie gedink het moontlik is nie, maak dit dat ons anders optree. Ons verhouding met God maak dat ons kies om nie soos die wêreld rondom ons te word nie, maar eerder om met hoop op te tree. Ons word opgeroep om die lig in ‘n donker wêreld te wees.

Matteus 5:13-16
Julle is die lig van die wêreld. 'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en 'n mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.

Hierdie lig kan ons op baie verskillende manier laat skyn, maar soms het ons nodig om terug te gaan na die eenvoudigste verduideliking daarvan. Om God se lig te laat skyn, beteken dat ons kies om met eienskappe te leef wat dikwels anders is as dit wat ons rondom ons ervaar. Ons lees oor hierdie eienskappe in Galasiërs 5:22-23:

Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.

Die wêreld het gelowige nodig wat weet dat God se lig deur hulle skyn. Mense wat anders is. Mense wat hoop nie net as ‘n emosie ervaar nie, maar wat hoop verander in aksie. Mag jou verhouding met God jou omvou sodat jy werklik hierdie eienskappe kan uitleef en op hierdie manier lig skyn in die donker hoeke van die wêreld.