Die Here bly (gelukkig) besig met ‘n mens.

Geskryf deur Dr. Zander van der Westhuizen

Ek is self al moeg vir die woord "besig". Ek wil die woord in 'n asblik gooi of iewers uit my "per-ongeluk-gebruik" daaglikse interaksie uithaal - maar voor my brein 'n plaasvervanger kon vind, sluip dit maar net weer in 'n gespek in.

Die rede is voor die handliggend. Daar is nie 'n oomblik tyd nie. Bouprojek. Fees. Begrotings. Skole. Preke. Pastoraat. Gesin. Sport. Personeel. Beplanning. Borge vind. Bid. Finansiële bestuur. Vergaderings. Boodskappe. E-posse. Oproepe.

Maar gelukkig bly die Here ook met ‘n mens besig.

Wanneer ek laat aande na 'n lang dag uiteindelik by die huis in stap dan is my kop nog vol. Die teenvoeter hiervoor is om 'n episode van 'n reeks te kyk. (Ja, ek weet, die blou lig is sleg. Ek bely my sonde!).

Die afgelope week kyk en die dokumentêr, "The Secrets of Hillsong". Sedert hierdie reeks uitgekom het is die wêreld aan die gons oor kerke en die kultuur van veral mega-kerke. Die reeks brei uit op bronmateriaal van 'n 2021 Vanity Fair-blootstelling oor die kerk wat krake in die kerk se prentjiemooi fasade onthul het. Die reeks bevat onderhoude met voormalige pastoor Carl Lentz, wat vir die eerste keer in die openbaar praat sedert hy uit Hillsong Church NYC, te midde van 'n kullery-skandaal, in 2020 afgedank is. Dit onthul ook die val van Brian Houston wat die kerk in 1983 in Australië begin het. Hillsong het gegroei tot 'n "denominasie" in meer as 30 lande. Hulle musiekbediening is selfs meer bekend as die kerk.

Terwyl ek die reeks kyk besef ek net weer eens hoe versigtig 'n mens moet omgaan in jou lewe met dit wat Brian McLaren die "onheilige triniteit" noem:

“People have no idea how strong a pull sex, money, and power have on them until they try to resist their pull.”
― Brian D. McLaren, Finding Our Way Again: The Return of the Ancient Practices

Ek het al in my lewe baie teologiese boeke moes lees. Om eerlik te wees - ek onthou nie almal ewe goed nie. Maar een wat 'n groot invloed op my gehad het was Brian McLaren se The secret message of Jesus.

In hierdie boek hanteer McLaren onder andere die Bergrede. Dit is die bekendste preek van Jesus (Matteus 5 - 7). Hy noem hierdie preek die "Kingdom Manifesto". Dit is basies 'n Christen se manifes. As jy wil weet hoe jy moet leef, dan moet jy hierdie manifes iewers in jou huis teen 'n deur of 'n venster opsit. Jy moet dit elke dag lees en daarvolgens jou etiek rig.

McLaren skryf baie oor die Bergrede, maar iets opvallend is sy skerp eenvoudige opsomming van wat Jesus ons leer. Die mens sukkel uiteindelik altyd met die drie grootste versoekings in ons lewens: geld (besittings), wellus (seks) en mag. Die hart hiervan is natuurlik selfsug.

Jesus leer ons om hierdie drie groot versoekings in ons lewens met goeie geestelike praktyke onder beheer te hou.

Die teenvoeter vir geld en besittings is om te leer om gereeld te gee. Gee soveel jy kan sê Jesus. En hoe ryker jy is - hoe meer moet jy gee. Anders haal geld en alles wat saam met dit gaan jou in.

Die teenvoeter vir wellus en seks is vas. Ontdek die waarde van 'n ritme om alles wat jy begeer (veral in jou gedagtes en hart) te stop met tye. Vas en fokus eerder op die goeie. Leer jou kop om sterker as jou lyf se begeertes te wees.

Mag se teenvoeter is gebed. Gee jouself aan die Here oor. Jesus leer ons die Onse Vader in die Bergrede. Bid gereeld. Skuif die fokus weg van jou eiegeregtigheid, jou behoefte aan posisie en die gif van faam. Soek die wil van jou Vader. Plaas die koninkryk eerste en nie jouself nie.

So tussendeur al die "besig" (daar doen ek dit weer), herrinner die Here my dat enige een van ons tot 'n val kan kom as ons nie waaksaam is nie. Selfs 'n groot mega-kerk. Selfs 'n leier. Selfs die introvert wat vir niemand iets vertel nie.

Ons stry elke dag teen ons grootste vyand: onsself. As geld, seks en mag jou lewe oorneem is die gevolge dikwels lewensveranderend. Verhoudings, kinders, liefde en uiteindelik jyself bly in die slag.

Jy ken die ou verhaal van die swart en die wit wolf wat altyd met mekaar baklei het. (Daar is baie weergawes van die legende). Soms wen die wit wolf. Soms wen die swart wolf. Iemand het eenmaal die eienaar van die twee wolwe gevra hoe weet hy watter een gaan wen. Hy antwoord: "Dit is maklik. Die een wat ek die meeste kos gee".