Sout en lig

geskryf deur Ds Karin Steyn
Die antieke wêreld was vol simboliek.
Simboliek was gebruik om idees, konsepte en kwaliteite te beskryf. Daar was dus altyd meer as die basiese interpretasie van die woord. Daar was ‘n dieper verstaan agter dit. Vandag praat ons steeds partykeer só – ons verstaan van sekere woorde het wel kultureel al verander.
So staan ek laas week in ‘n gesprek waar iemand ‘n gesin beskryf met die woorde: “Hulle is regtig sout-van-die-aarde-mense”. My gesig glimlag dadelik omdat daar soveel gesê word met die aanmerking.

Jesus praat ook op ‘n spesiale manier van sout en lig (Mat 5:13) en die skare wat om Hom staan verstaan presies wat Hy met sy woorde bedoel het. Hulle het geweet hoe waardevol sout was as ruilmiddel. Die Grieke het slawe gekoop met sout en salarisse was met sout betaal, vandaar die term Salarium wat ons vandag as salaris gebruik. Sout was ook ‘n preserveermiddel en ‘n genesende produk.

In die skare waar Jesus staan en van lig praat, was dit baie moeiliker om jou huisie te verlig in die aand – ons verstaan iets hiervan met loadshedding. Maar ‘n kers se lig of ‘n enkele lamp kon die donker van die nag verdryf.

Tog is daar soveel meer in Jesus se woorde as hy verduidelik dat sy volgers aan sout en lig geken sal word. Dis taal wat roeping verduidelik. Hy vertel eintlik hoe hulle moet wees en dan wat hulle moet doen. So Jesus is hier baie prakties met die verstaan van die koninkryk. Hy wys hier dat die koninkryk gevind word in al die klein dingetjies van wie ons is en wat ons doen.
So as ons vandag van lig praat as gelowiges (Hoe ons moet wees) - is dit ons lig na die wêreld toe. Gelowiges maak lig rondom hulle. Die lig is die weerkaatsing van die heerlikheid van die Here. Ander word dan ook deur die lig aangetrek.

Ons is ook sout (Wat ons moet doen) – wat toesien dat ons van die wêreld waarbinne ons leef, leefbare ruimtes maak. Ons doen dit deur te bewaar en te genees. Twee van die grootste eienskappe van sout. Want dan los ons ‘n aangename smaak in mense se monde oor kerk-wees en Jesus.

Hierdie week vier ons fees by ons gemeente. Die Lig en Ritme Fees. Dis ‘n baie spesiale tyd om deel te wees van ons gemeente. Daar is soveel kersies wat ons kan aansteek uit dankbaarheid, maar ook vir elke gemeentelid wat op ‘n unieke manier hul lig laat skyn hier by ons.
So saam met die fees, het ons bou-projek ook afgeskop en in die proses ervaar ons iets van preserveer en bewaar (sout-wees) vir die toekoms.

Sout en Lig wees hier in Tygerpoort.
Kom kuier en eet saam. Kom wees en ervaar sout en lig!