Die lewe is keuses

geskryf deur Ds Wouter
“Die lewe is keuses.”
So het ons buurman altyd gesê wanneer ek en sy seun gekla het oor besige skedules.
Natuurlik is dit waar. Ek is besig as gevolg van sekere keuses wat ek maak. Elke keuse het verskillende gevolge wat soms tegelyk goed en sleg kan wees. Vir party mense kan hierdie keuses dikwels ‘n probleem wees. Te veel keuses kan lei tot ‘n gevoel van angs en onsekerheid. Dit kan lei tot huiwering en slapelose nagte.

Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek die wysheid van ons liewe buurman. Want hoe ouer ‘n mens word, hoe groter is die impak van ons keuses. Ek moet kies hoe ek my kinders groot maak. Ek moet kies wat ek aanmoedig en wat ek afkeur. Ek moet kies watse werk ek doen en hoe my ure lyk. Ek moet kies waar ek bly. Ek moet kies om voortdurend ‘n goeie huweliksmaat te wees. Ek moet kies om verhoudings in my lewe toe te laat of uit te sny. Ek moet kies hoe ek reageer wanneer swaarkry en beproewing oor my pad kom. Ek moet kies hoe ek optree as iemand my seermaak of wanneer daar konflik in my hart is.

Die lewe is keuses.

Keuses kan jou gevange hou en jou verlam.

Keuses kan bevrydend wees want om van keuses ontneem te word is om ‘n slaaf te wees.

Eksodus 1 begin met ‘n keuse.

Twee Hebreeuse vroedvroue word beveel om seuntjies dood te maak. Daar is onsekerheid oor of hier verwys word na vroedvroue wat van Hebreeuse afkoms is, en of dit verwys na vroedvrouens van Hebreërs – jy moet maar kies.

Hierdie keuse, soos baie van ons keuses, gaan gepaard met vrees. Wat as ek verkeerd kies? Wat as ek hier ‘n kritieke fout maak wat my lewe vir altyd gaan affekteer? Hier kan jy jouself indink hoe hierdie twee vroue vreesbevange is om teen die Farao se bevele te gaan. Dit kan hulle eie dood verseker. Maar wat sou dit beteken? Die sou beteken om in ‘n wêreld te leef waar vrees vir die onbekende jou van jou moraliteit beroof. Dit sou beteken om te kies om in die wêreld te leef waar jy toegee dat die Farao die laaste sê oor jou lewe en waardes het. Die vrees vir hierdie soort wêreld gee hulle die waagmoed om teen die Farao se wense op te tree. Want daardie soort wêreld is MEER vreesaanjaend. Daarom kies die vroue.

Hulle dien God. Nie die Farao nie.

In ons lewens is dit nie altyd maklik om te weet wat is die Farao en wat is God nie.

Dalk is hierdie ‘n goeie toets: Maak hierdie keuse my vry of maak dit my ‘n slaaf?
In die groot prentjie het die vroedvroue se optrede nie die uiteindelike massamoord afgeweer nie. Maar die keuse het ‘n verskil gemaak. Dit lei die hele boek van Eksodus om te vra: Wie kies jy? Farao? Of God?

Mag jy wysheid kry om God se alternatief te sien, en dit te kies.

Genade en vrede
Ds Wouter