Dinge van die lewe

Geskryf deur Prop. Olga Ludwick Venter
In 2020 het ek baie tyd saam met ‘n tweejarige spandeer. Ons het op verbeeldingsavonture gegaan en baie geselsies aangeknoop. Een middag sit ons in die sandpunt en maak tee. Terwyl ek tee skink sê my gas vir my: “Kom ons gesels oor die dinge van die lewe.” Ek het nie hierdie onderwerp van bespreking verwag nie. Ek het ook nie ‘n benul wat die dinge van die lewe veronderstel is om te wees nie. Nog minder wat dit vir ‘n tweejarige is nie. Ons kyk soekend in mekaar se oë. Ek breek die spanning en vra onseker: “Wat is die dinge van die lewe?”

Wat is die dinge van die lewe?
Soms is dit ‘n manier om ‘n kind wat iets van ‘n gesprek gehoor het en wat hulle nie mooi verstaan nie en eintlik nie moet hoor nie, stil te maak.

Soms is dit juis die vraag wat jou in jou spore laat vries.

Dalk is die vraag nie klaar nie. Dalk help dit as ons nog so paar woorde tot die sin byvoeg. Ons wil seker vra: “Wat is die dinge van die lewe wat belangrik is? Wat is die dinge van die lewe wat werklik saak maak?”

Ek wonder wat sou God antwoord as ons hierdie vraag aan hom rig.
Ek dink vir elke person sal die antwoord verskil. Ons kan dan nog ‘n paar woorde tot die sin voeg. “Wat is die dinge van die lewe wat belangrik is VIR JOU?”

Daar is waarskynlik ‘n mengelmoes antwoorde: ‘n paar diep dinge wat ons verwag meeste mense as belangrik sal beskou; dan ‘n paar oppervlakkige antwoorde wat ons net sal erken in “veilige” geselskap en dan ook ‘n vraag.

Daar hang ‘n stukkie misterie bo-oor die vraag. En ook ‘n stukkie heiligheid. Ek kan nie anders nie as om in hierdie vraag te voel asof God sy hand na ons toe uitsteek en wil sê: “Kom ons gaan kyk”.

Ek dink gereeld aan hierdie groot vraag wat onskuldig uit die mond van ‘n klein kindjie gekom het en dan wonder ek oor die antwoord. Ek dink daaraan dat die sandput ons twee  se huis was en ons vreeslik vêr na die oorkant van die swembad gestap het omdat ons vir ons kinders in hulle popwaentjies baie graag diere by die troeteldierwinkel aan die oorkant wou wys. En dan besef ek dat God en die dinge van die lewe dalk in een verweef is.

PSALMS 19

1Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid.
2Die hemel getuig van die mag van God,
die uitspansel maak die werk van sy hande bekend.
3Die een dag gee die berig deur aan die ander
en die een nag deel die kennis aan die volgende mee.
4Sonder spraak en sonder woorde,
onhoorbaar is hulle stem.
5Tog gaan daarvan 'n boodskap uit oor die hele wêreld
en hulle taal bereik die uithoeke van die aarde.
Vir die son is daar in die hemel 'n tent opgeslaan.
6As hy stralend begin om sy baan te volg,
is hy soos 'n bruidegom wat uit sy slaapkamer kom.
7Aan die een kant van die hemel kom hy op
en aan die ander kant gaan hy onder,
en niks ontkom aan sy gloed nie.
8Die woord van die Here is volmaak:
dit gee lewe.
Die onderwysing van die Here is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is.
9Die bevele van die Here dui die regte koers aan:
dit bring blydskap.
Die gebod van die Here is helder:
dit gee insig.
10Die eise van die Here vir sy diens is goed:
dit staan altyd vas.
Die bepalings van die Here is reg:
elkeen van hulle is regverdig.
11Hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud,
soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek.
12U dienaar laat hom daardeur leer.
Wie dit alles onderhou, groot is sy beloning.
13Wie sien sy eie dwalinge raak?
Moet my tog nie straf vir sondes wat ek onwetend gedoen het nie.
14Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees
en vry van hierdie groot sonde.
15Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.