Is jy nog opgewonde oor die Here?

Geskryf deur Dr. Zander van der Westhuizen
My studentedae was 'n tyd van ongelooflike geestelike ervarings en bediening. Ek onthou hoe ons die land vol getoer het om jong mense met die liefde van die Here te bedien. Ek het in hierdie tyd besef hoe die Here werklik in mense se lewens werk op maniere wat buite my verwysingsraamwerk was. Ons het baie tyd spandeer om in bedieningsgroepe saam te bid, voor te berei vir optredes en mekaar te ondersteun.

Dit was 'n tyd om die Here te leer ken as 'n God wat leef! Ek was opgewonde oor Hom. Ek het geleer hoe om Sy stem te hoor en het gereeld beleef hoe Hy my na vreemdelinge toe stuur met 'n boodskap. Ek sou op vakansie wees en sommer beleef die Here lê iemand op my hart met 'n boodskap van ondersteuning. Wanneer ek vol huiwering tog met die persoon 'n gesprek aanknoop dan deel die persoon met my die moeilike tyd waardeer hul gaan. Hierdie ervarings het my geloof versterk en al hoe meer sensitief gemaak vir hoe die Here 'n mens kan gebruik.

Ek was self al meermale aan die ontvangkant van sulke ervarings. Oomblikke waar 'n vreemdeling net sommer na my toe stap en iets met my deel wat hulle beleef die Here op hul hart vir my lê. Jare terug het iemand op 'n berg in Oostenryk na my toe gestap met 'n klein Christelike embleem op 'n hangertjie. Hy het vir my gesê dat die Here vir my 'n boodskap het. Hy het met my gepraat oor roeping en dinge wat ek lank oor gebid het. So onlangs soos laas week het iemand na my toe gestap in 'n publieke plek en vir my gesê die Here het vir jou 'n boodskap: "Hou aan! Alles gaan gebeur en uitwerk soos Hy wil".

In Openbaring 2:4 dan dra Johannes die boodskap van die Here aan die Efesiërs oor: "Maar Ek het dit teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie."

Is jy nog so lief vir die Here soos aan die begin toe jy Hom leer ken het in? Is jy nog opgewonde oor die Here? Beleef jy dat die Here vandag nog met jou werk? Glo jy nog soos aan die begin?

Ek moet erken. Soos ek ouer word is ek meer versigtig vir "boodskappe van die Here". Ek wil nie naïef wees oor mense wat sommer lukraak na 'n mens toe kom met: "So sê die Here", nie. Ek weet ek is self baie gesteld daarop om seker te maak ek hoor mooi die Here se stem voordat ek iets namens Hom vir iemand oordra. Ek besef ek is mens en maak ook foute as dit kom by die hoor van Sy stem in my lewe.

Maar! Moenie toelaat dat die lewe jou insluk en oorweldig nie. Moenie toelaat dat jou rasionele denke jou wegdryf van jou ervaring van jou eerste liefde af nie. Moenie toelaat dat jy vergeet hoe jy lief vir die Here was toe jy Hom die eerste keer leer ken het nie. Moenie op hou glo in wat Hy kan doen nie en moenie jou hart toe hou vir Sy stem in jou lewe nie.

Wees oop dat die Here jou kan gebruik om Sy liefde uit te leef. Wees oop om nuwe belewenisse van die Here in jou alledaagse lewe te kan beleef. Wees oop vir die werk van sy Gees deur jou en met jou.

Raak weer lief vir die Een wat jou beter as enige iemand ander ken. Wees oop vir die Een wat jou lief het soos niemand anders nie.