Resoneer

geskryf deur Ds Wouter van Wyk
Ek kry die ander dag toevallig ‘n video wat die effek van resonansie verduidelik. (volg hierdie skakel om die video te sien - https://youtube.com/shorts/LYTFkp_wJME?si=ugUfcOV61B9utKoB) Resonansie gebeur wanneer ‘n voorwerp op ‘n sekere frekwensie vibreer waarin dit die “gemaklikste” is. Dit is ook wat die klank veroorsaak wanneer ons byvoorbeeld ‘n wynglas met ‘n mes tik by ‘n troue om mense se aandag te kry.

Wat interessant was van die video, was om te sien hoe onderwerpe reageer wanneer hulle dieselfde resonansie deel. Dit is aansteeklik. Dit veroorsaak beweging en verandering. Dit is ook waarom ek verslaaf is aan koormusiek. In ‘n koor resoneer ons met mekaar om musiek te kan maak. Daarom voel koorsangers dikwels so na aan mekaar, want die gedeelde resonansie bring eenheid en eensgesindheid soos bitter min ander dinge. Dit is ook die groot rede waarom dit vir ons so lekker is om in die kerk te sing wanneer dit vol is. Dit is ‘n klomp mense wat op daardie oomblik saam resoneer, wat almal op dieselfde frekwensie is. Wat saam in beweging gebring word.

Dit bly een van wonderlikste dinge daarvan om in ‘n gemeente te wees. Om saam as gelowiges bymekaar te kom. Want selfs al sing ons nie altyd saam nie, deel ons steeds resonansie. Wanneer ons, soos Paulus ook hier in Romeine 12 beskryf, eensgesind onder mekaar is (vers 16), meelewing onder medegelowiges betoon (vers 13) en mekaar opdra in gebed, gebeur die wonderlikste dinge met ons. Ons resoneer met mekaar omdat God ons gedeelde frekwensie is.
Dis wanneer wonderwerke gebeur. Dit is wanneer goed die kwaad oorwin. Dit is wanneer die omgewing rondom jou verander word.

Ek luister nou die dag na ‘n man wat praat oor sy skoonpa. Hy vertel toe hoe sy skoonfamilie van al die hoeke van die wêreld bymekaar gekom het en mekaar ondersteun het. Hy onthou hoe vriende kom help het, hoe hulle saam gebid en gesing het. Hy vertel hoe hulle saam gekuier het en stories vertel het. In refleksie hierop maak hy die opmerking dat hy nie kan sê of hulle geloof die dood makliker gemaak het nie. Maar hy kan wel sê dit het dit minder “hel” gemaak. En volgens hom behoort dit vir iets te tel. Ek stem saam met hom. Resonansie verander nie altyd die omstandighede in wese nie. Maar resonansie met mekaar, maak dinge soms minder hel.

Dit tel iets.

Mag ons ook so ‘n familie wees. Wat mekaar dra in gebed, saam met mekaar treur en saam met mekaar lag. Mag ons saam resoneer op die frekwensie van God. Mag ons kwaad antwoord met goed.

Genade en vrede