Wanneer jy oor dááí vrae begin wonder

geskryf deur Prop Olga Ludwick-Venter
Hoe meer ek met mense werk, hoe meer kom ek agter dat daar ‘n tyd in elkeen se lewe kom, waarin hulle ‘n klomp dinge bevraagteken. Die tipe vrae waaroor hulle wonder sluit in: Wat beteken my lewe? Het ek ‘n bydra om te lewer? Hoe spandeer ek my tyd?
Die vrae sit so diep in elkeen se menswees dat wanneer ons daaroor dink en die antwoorde nie altyd is wat ons wil hê dit moet wees nie, los dit ons  met ‘n klomp moeilike emosies.

Ek wonder of ons nie hierdie vrae vra omdat ons ‘n idee het oor wie ons veronderstel is om te wees nie. Die wêreld konfronteer ons met verskillende boodskappe oor wie ons veronderstel is om te wees. Dat jy op sekere tye van jou lewe sekere dinge moet bereik. Dat jou huis op ‘n sekere manier moet lyk. Dat jy sekere dinge daagliks of weekliks moet doen. Dat jy heeltyd moet werk om jouself of jou lewe te verbeter.

In elkeen sit daar hierdie dryf na meer en beter. In die sielkunde noem hulle dit die “prestasie bewustheid” (achievement awareness). Dit is die deel van jou wat heeltyd bewus is van dit wat jy voel jy moet bereik of moet wees.

Maar dan is daar ook ‘n ander kant. ‘n Kant wat ek dink baie van ons sukkel om te aanvaar. Dit is die kant wat sê dat wie jy is, diep in jou kern en jou wese, is genoeg. Die kant wat liefde en grasie na jouself en ander toe uitgee. Die kant wat jou help besef dat daar iets soos genoeg is. Hulle noem dit die “ontwaakde bewustheid” (awakened awareness). Ek hou daarvan om te dink dat dit die stem van die Heilige Gees is.

Vir baie mense wat slegs vanuit die prestasie gedrewe bewustheid lewe, is dit moeilik om God te ervaar. Hulle ervaar die dringendheid van dinge doen en bereik. En wanneer die lewe verandering bring en ‘n rustiger seisoen aanbreek, is dit maklik om teleurgestel te voel in die antwoorde op dááí vrae.

Om dan bewus te word dat daar ‘n ander kant in jou is, ‘n ander stem is, kan dan ‘n groot verskil maak. Dit kan jou help om te ontdek dat wie jy is en wat jou lewe beteken nie gekoppel is aan die dinge wat jy bereik nie, maar aan die Een wat jou gemaak het.

Psalm 139:1b-7;13-14a (83 vertaling)
Here, U sien dwarsdeur my,
U ken my.
2 Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit,
U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.
3 Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit,
U is met al my paaie goed bekend.
7 Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug?
Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?
13 U het my gevorm,
my aanmekaar geweef in die skoot van my moeder.
14 Ek wil U loof,
want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep.
Wat U gedoen het,
vervul my met verwondering.

Mag jy hierdie week ontdek dat jy meer is as jou dryf tot sukses. Mag jy ontdek dat jou diepste self genoeg is. Mag jy die stem van die Heilige Gees hoor en mag jy God se onbeskryflike liefde en aanvaarding ervaar.
Amen