Hoekom is dit goed vir my om te gee?

geskryf deur Dr Zander van der Westhuizen
Ons grootste vyand is onsself. Ek het dit al baie gesê - dalk omrede ek myself ook gereeld daaraan moet herinner. Ons ego hou ons vas, blind, onsensitief en selfsugtig. Ons ego is altyd in die pad van selfinsig, groei en uiteindelik 'n lewe wat meer en meer soos Jesus sin lyk.

As jy wonder of dit waar is moet jy net om jou rond kyk. Let op hoe mense praat, wat mense sê, hoe mense reageer wanneer hulle nie hul sin kry nie. Luister hoe mense om jou die woord "ek" gebruik. Kyk wat gebeur op Whatsapp-groepe. Wees bewus van wie waar opdaag en vir watter redes. Sien waar dieselfde persone nie opdaag nie.

Dit is alles ego-gedrewe gedrag en denke. En dit is besig om ons omgewing te verander in 'n koninkryk van die wêreld en nie die koninkryk van God nie.

Daar is veral een ding wat 'n ongesonde ego voed - geld.

Hoe jy met jou geld en besittings werk is 'n venster wat verklap hoe gesond jou ego is. As jy só baie besit en só baie die hele tyd op jouself spandeer word jy 'n mens, wat sonder dat jy dit besef, totaal uit selfsug begin leef.

As jy jou ego wil gesond hou moet jy verstaan hoekom Jesus ons leer om die geestelike dissipline van gee toe te pas.

Dit is tans Tiendemaand in ons gemeente. Ons fokus in hierdie tyd op gee as 'n gesonde geestelike dissipline. Hoekom is dit so belangrik om te gee?

  1. As jy aan alles wat jy het vashou en nooit daarvan weggee nie - voed jy 'n ongesonde ego wat so selfgerig raak dat dit naderhand destruktief kan word. Om te gee help jou om die waardes van liefde, omgee en onselfsugtigheid te ontwikkel.
  2. Mense wat gee is dankbare mense wat besef dat dit wat hulle het alles van die Here af kom. Dankbare mense is vriendelik, gasvry en oop. En dankbare mense is gelukkige mense wat 'n hart het vir ander.
  3. Mense wat gee laat nie toe dat hul besittings hulle besit nie. Mense wat gee besit hulle besittings en kan met minder klaarkom.
  4. 'n Gelowige is deel van 'n familie. Soos in enige familie dra almal tot die familie se werk en uitgawes by. Die Bybel leer ons dat elke lidmaat 'n verantwoordelikheid het om 'n bydrae te gee (op die manier wat vir hulle moontlik is) sodat die familie die werk van die Here kan doen. Om te gee maak jou deel van 'n groter droom eerder as om net 'n naam op 'n gemeente se lys te wees.
  5. Ons is ryk. Ons dink nie altyd so nie. Maar ons is. Daar is baie plekke om te gaan kyk hoe vergelyk jy met die res van die wêreld of jou land. Een so webtuiste is: https://wid.world/income-comparator. As jy bv. R15 000 per maand verdien is jy in die top 18% van die populasie. Anders gesê - 82% van mense is armer as jy. Jesus leer ons dat ryk mense 'n groot verantwoordelikheid het om te gee. Hoe meer jy het - hoe groter is jou verantwoordelikheid.
  6. Gee help ander. En daar is niks beter vir jou siel as om te weet dat iemand anders hulp ontvang nie - want ons is lief vir ander. Liefde dryf gee. En liefde is die grootste teenvoeter vir selfsug en 'n ongesonde ego.

Ek dink gereeld ek gee te min. Ek weet ek stres oor my begroting en of ek alles gaan kan betaal. Die pryse gaan op. Die ekonomie druk. Ons gesin sny waar ons kan. Die kinders se aktiwiteite en ons kosrekening is baie. Dan vergeet ek so maklik van ander wat nog meer as ek sukkel. Ek vergeet van my verantwoordelikheid om my geloofsfamilie te ondersteun of om iemand te help wat sukkel. En bowenal vergeet ek dat alles wat ek het is in elk geval die Here sin.

Ons mag nooit ophou gee nie. Die oomblik as ons so selfsugtig raak dat ons geld en besittings die belangrikste goed in my lewe word - dan is ons nie naby die waardesisteem van die koninkryk van God nie.

Moenie jou ego soveel kos gee dat daar nie meer plek vir liefde en dankbaarheid is nie.

En soos die weduwee van Markus 12 - selfs al gee jy die minste - Jesus wil jou hart gesond hou. Jy kan baie gee en steeds nie 'n gesonde hart hê nie. Of jy kan min gee en meer van die koninkryk van God verstaan as enige iemand anders om jou wat baie besit.