God hou boek van ons trane

geskryf deur Dr Karin Steyn
Wat doen jy wanneer jy jou hand op ‘n warm plaat brand? Jy ruk dit weg, en draai dadelik van die pyn af weg. Dit is ons natuurlike instink met enige pyn. Nie net fisies nie, maar ook emosioneel en psigies. Ons hou nie daarvan om met pyn gekonfronteer te wees nie.

Wanneer ‘n kind huil of iemand hartseer is, gryp ons gewoonlik dadelik in en doen alles om die pyn te versag en te vermy.

Dit is seker waarom die nuus en die gebeure in Israel my tans so diep raak. As ek lees van 500 kinders wat al oorlede is, rol my trane.
Ons wêreld is so deurmekaar.

Banksy, ‘n bekende kunstenaar, beeld dit wat in my hart leef so mooi uit met sy nuwe kunswerk wat die week vrygestel is.

Tog huil almal van ons nie ewe maklik nie. Wetenskaplikes wys dat trane eintlik goed is vir jou. Dit ontlaai gifstowwe en streshormone en verlig ons gemoed beter as enige medisyne. Dis seker waarom ons soms na ‘n goeie huilsessie soveel ligter kan voel.

In Psalm 56:9 staan daar: “Hou tog my trane in U leersak.” Die vers staan nog altyd vir my uit. Wat presies bedoel die skrywer? As ons mooi gaan kyk na die Psalm verduidelik dit letterlik dat God ons trane tel en bêre.

Wow, op die regte tyd kan die bewuswording so baie vir ons beteken. Dit wys God se persoonlike en tere betrokkenheid by elkeen van ons. In alle tye en alle omstandighede. Nou ook by elke ouer en kind in Israel.

Hoe langer ek sit met die gedagte van God wat ons trane tel hoe meer word ek bewus in dat Jesus ons wil leer om nie weg te draai nie, maar eerder ná die pyn toe te draai. Hy gaan huil oor Johannes die Doper wat onthoof is. Hy huil by sy vriend Lasarus voor die graf.  Hy stap selfs in Jerusalem in en huil oor die ongeregtigheid en verlorenheid van Israel. Hy weier selfs ‘n verdowingsmiddel aan die kruis vir al Sy pyn. Dit wys ons, Hy verstaan die diep seerkry-huil wanneer iemand na aan ons gesterf het en ook die magteloos-huil oor ons stukkende wêreld.

En in die lees besef ek: Ons moet huil.  Al gee ons kultuur ons nie toestemming nie. Daar is nie tyd nie. Alles moet vining aanbeweeg. Moet net nie wys nie.

Jesus bring vertroosting en hoop in ons trane (Ps 56:9). Daar is dus krag in ons trane.