Dank vir ‘n belegging

geskryf deur Ds Wouter van Wyk
Ek praat die week met ‘n man wat ek al vir baie jare ken. Ek onthou sy woorde van 15 jaar gelede: “Ek het meer geld as wat ek weet wat om mee te doen.” Met hierdie woorde het hy my gerus gestel en toe voortgegaan om vir my ‘n rum en coke in Euros te koop. Iets wat ek baie waardeer het.

Die lewe het intussen baie aan die man gedoen. Hy moes intussen sy besigheid toemaak. Hy is geskei. Hy het Kaap toe getrek, en weer teruggekom. Sy lewe het drasties verander sedert ek hom leer ken het in 2008. 

Tog bewonder ek steeds die man. Want hy het oor die afgelope 15 jaar wysheid opgedoen, en ook met my gedeel. Onder andere: “Wouter, ek wil nie weer terug gaan na daardie dae van oorvloed nie. Want ek het nie geleef nie. 6:00 soggens op kantoor,  22:00 steeds daar. Spanning en alles wat ‘n mens doen om van spanning ontslae te raak, is nie die moeite werd nie. Vandat ek my werk bedank en grootliks afgeskaal het, nadat ek geskei het, gaan dit beter. Nadat ek my prioriteite verander het, het ek agtergekom wat my vreugde gee. Vir my is dit my kinders. Ek was sedertdien by elke skoolfunksie en sportbyeenkoms. Ek ken my kinders en hulle ken my. Die tyd wat ek in hulle belê het, is meer werd as enige iets anders.” Die TYD wat ek BELÊ het.

Dit is vir my opvallend dat dit ook presies Paulus se woorde is in Filippense 4:17:
“Dit is nie dat ek van julle 'n bydrae verlang nie; ek verlang eerder dat die opbrengs op julle belegging toenemend sal groei.” (Die Bybel: Direkte Vertaling)

Paulus praat hier van geld, maar hy praat nie van geld nie. Die gemeente het hom finansieel ondersteun in tye waar hy dit bitter nodig gehad het. Hiervoor sê hy vir hulle dankie, maar op ‘n vreemde manier. Hy begin deur te sê dat hy dankbaar is vir die geld. Tog voeg hy dadelik by dat dit nie gaan oor die geld nie, want hy “is tot alles in staat” deur Jesus Christus wat hom krag gee. Die eintlike rede waarom hy bly is oor die geld, is omdat dit vir die gemeente ‘n belegging is. Nie in hom nie, maar in hulself. Want deur hierdie daad van vrygewigheid, belê hulle in hulself.

Dis die punt. Dit is die waarheid wat in ‘n groot mate teenstrydig is. Om te gee, is om te ontvang. MAAR NIE GELD NIE! Deur jou gedagtes te gee. Deur deel te neem. Deur te bou aan die gemeente se toekoms. Deur ‘n kans te vat op mense. Deur geduldig te wees. Deur iemand toe te laat om te wees wie hulle is, en hom/haar te aanvaar. Deur te fokus op die goeie, en nie die slegte nie. Dit is hoe ons belê. En dit is wat die verskil maak. Deur geld te gee maak mens hierdie dinge net sigbaar. Dit is die kersie op die koek. 

Ek skryf hierdie dagstukkie nie omdat ek enigsins ‘n aandeel het by die Tiendemaand projek nie. Ek skryf dit, want dit is wat ek beleef het die afgelope sewe jaar by NG Tygerpoort.

Ek het ‘n gemeente beleef wat ‘n kans gevat het op ‘n jong Hervormertjie. Die Hervormer is nou al langer NG dominee as Hervormd. Ek het ‘n gemeente beleef wat glo in ‘n toekoms vir hierdie gemeenskap. Ek het ‘n gemeente beleef wat belê het in kinders se lewens. Ek het ‘n gemeente beleef wat my toegelaat het om myself te ontdek en tevrede te wees met daardie mens. Want die gemeente is tevrede met daardie mens.  

Soos Paulus kan ek met trane in my oë net dankie sê. 

Dankie vir die belegging. Ek WEET dit gaan vrugte dra hier in Tygerpoort. Ek sal die vrugte daarvan vir altyd met my saamneem, in die hoop om dit ook uit te dra aan ander wat dit net so nodig het.

Vrede en oneindig baie liefde