Die reis
geskryf deur Prop. Olga
Die reis
Eerskomende Sondag gaan ‘n groep 17-jariges voor die gemeente hulle geloof in Jesus Christus as Verlosser bely. Dit is ‘n groot oomblik in hierdie jongmense se lewens. ‘n Merker op hulle pad vorentoe.
Dit laat my dink aan groot oomblikke in elkeen se lewens. Op verskillende tye ervaar ons ‘n diep bewustheid van God se hand in ons lewens. ‘n Besef dat God ‘n pad met jou stap. ‘n Behoefte om opnuut erns te maak met jou verhouding met God.
So ‘n behoefte moet gemerk word en ook gevier word. Hierdie ding wat in ‘n mens se binneste gebeur is ‘n getuienis van die Gees wat in ‘n mens werk. Dikwels sonder dat ons dit besef en dan is dit skielik en oorweldigend. Geloof is inderdaad ‘n lang reis.
Ons lees dikwels in die Bybel verhale van mense wat hierdie oomblikke in hulle lewens gehad het. Onverwags terwyl hulle eintlik besig was met ander dinge. Soms terwyl hulle op pad was om vergifnis te vra, of om ‘n moeilike boodskap aan iemand te gee. Soms wanneer hulle iets besonders gesien het, of wanneer hulle gebede gehoor is. Hulle merk hierdie oomblikke op verskillende maniere. Soms met ‘n handvol as òf met die bou van ‘n altaar. Maar altyd met ‘n gebed.
‘n Gebed kan stil wees of ‘n stortvloed van woorde hê. Vir hierdie groep jongmense bid ek die volgende gebed:
Gebed van ‘n reisiger (Coenie de Villiers)
Sny vir my, o Heer,
‘n wandelstok of twee
uit die woud by Tsitsikamma,
en loop dan met my mee.
Oor die vlaktes van die groot Karoo,
oor die berge van Natal,
langs die kus af tot by Vleesbaai,
tot by die groen van Riversdal.
Brand die hemel van die Vrystaat
in my hart se dagboek in.
Laat my nooit dié lug vergeet nie
wat aan die horison begin.
En Heer, is dit dieselfde son
wat by my reis se einde skyn?
Behou mens steeds dié reuk van reën
as jou geheue dalk sou kwyn?
Want ek vrees mos nie die vreemde nie,
selfs die afstand laat my koud.
By U is daar geen leemte nie,
U bly steeds my behoud.
Al reis ek oor die sewe seë –
skuif kontinente stil verby –
sal ek my voetval op U rig,
my in die reis verbly.
Maar ek vrees tog wel die eensaamheid,
ek skrik die Groot Alleen.
Dis dán wanneer U my moet dra,
want ek weet ek gaan daarheen.
Laat die sterre dus my kompas wees,
en U steeds my ware Noord.
Lei elke voetstap van my reis, o Heer,
want dit is soos dit hoort.
Waarookal jy op jou geloofreis mag wees, bid ek dié ook vir jou.