God ook om ons

geskryf deur Ds. Karin Steyn
God ook om ons

“Miskien moet jy die diere vra om jou te leer,
die voëls daarbo om jou te vertel,
of praat met die aarde dat dit jou leer
en met die visse in die see dat hulle dit vir jou sê.
Wie van hulle weet nie almal
dat die hand van die Here alles gemaak het nie?
Hy het al wat lewe, in sy mag,
die asem van elke mens.
Moet die oor nie woorde toets
soos die verhemelte kos proe nie?"
Job 12: 6-11


Die natuur is wonderlik. Maak nie saak hoe oud jy is nie, daar is altyd iets nuuts om te leer en te ervaar. In ons huis is ek en die kinders gefassineer met diere wat van kleur kan verander. 

Ons het geleer dat seekatte intensioneel hulle kleur kan verander as hulle jag of skrik. Hulle kan ook hulle kleur verander om by hulle omgewing in te pas. Terwyl verkleurmannetjies teen die algemene opvatting in, nié van kleur verander om hulself weg te steek nie, maar eerder om aggressie of begeerte oor te dra. Hulle doen dit ook om hulle liggaamstemperatuur te reguleer. 

Nuwe navorsing wat in 2016 gedoen is, wys dat hierdie twee diere kleur aanvoel, wat beteken “there is thought or intentionality behind their colour changing.” Hoe wonderlik is hulle nie geskape nie?

Jürgen Moltmann verwoord so mooi ons nader-kyk na die natuur: “to discover God in all the beings he has created and to find his life-giving Spirit in the community of creation that they share”. Hoe meer jy weet dat jy gemaak is om ’n verhouding te hê met jou omgewing en die diere wat daarin leef, hoe meer sal jy verwonderd raak en dankbaar wees oor die wonder van menswees.

Ons word uitgenooi om nie net respekvol te lewe met en in die natuur nie, maar ook om God deur die natuur te ervaar. Om met passie te lewe vir alles wat mooi is om ons. Want alles wat in die natuur gebeur, gebeur ook in ons. Om dit raak te sien is ‘n groot oomblik waarin ons, ons plek verstaan in God se skepping. Daarom het Jesus ook geleer: “Let op die lelies…” en “Kyk na die voëls…” in Matteus 6:26.

Hoe kan ek en jy God in die natuur ontmoet?
  • Spandeer tyd alleen en in stilte in die natuur deur te stap of draf. Wees ten volle teenwoordig en maak jouself oop vir die nabyheid en teenwoordigheid van God. 
  • Reflekteer en mediteer op die skoonheid van die natuur. Neem fotos. Dit bring jou nader aan heiligheid en die grootheid waarmee God die skepping geskape het. 
  • Wees kreatief in die natuur, soos tuinmaak, skilder of skryf.  
  • Bid in die natuur.

Graig Foster, vervaardiger van dokumentêre films, se ontmoeting met ’n seekat in die dieptes van ’n seewierwoud aan die kus by Simonstad was die begin van ’n liefdesverhaal soos geen ander nie. ’n Liefdesverhaal tussen ’n mens op soek na antwoorde op die raaisels van die lewe en ’n seekat wat letterlik na hom uitreik en sy leermeester word. As jy begin rustiger word aan die einde van die jaar of lekker by die see rus. Kyk gerus My Octopus Teacher . Dit is ’n meesterstuk waarvoor jou byvoeglike naamwoorde opraak.

Leef in bewondering.
Ds. Karin