Wie sit hierdie tyd van die jaar aan jou tafel?

geskryf deur Sonnika
Wie sit hierdie tyd van die jaar aan jou tafel?

Hier aan die einde van die jaar is daar mos altyd ‘n klomp afsluitingsfunksies en kuiers!  Dan bevind ons onsself aan ‘n tafel tussen geliefdes, kennisse, kollegas of soms vreemdelinge. Partykeer geniet jy jou gate uit tydens so ‘n kuier en ander kere hou jy die horlosie stip dop om te bepaal wanneer dit nie meer onbeskof sal wees om jouself te verskoon nie. Sommige kuiers gee vir jou energie, nuwe moed en verlig die einde-van-die-jaar-spanning.  Maar ongelukkig laat sommige van hierdie kuiers ons uitgeput, gefrustreerd of teleurgesteld.

So is dit ook met die spreekwoordelike “tafels” waaraan jy elke dag sit: by jou huis, by jou aftree-oord, by jou werk, in jou sosiale kringe en selfs die sosiale media wêreld waarin ons ons daagliks bevind.
 
Die konteks of die omgewing waarin ons daagliks bestaan bepaal in ‘n groot mate jou uitkyk op die lewe en daarom ook jou gemoedstoestand.  Indien die mense binne jou konteks positief en opbouend is rig dit meestal jou denke op ‘n kreatiewe en innoverende manier.  Dit help jou om makliker probleme op te los, dankbaar te leef en ‘n gesonder uitkyk op die lewe te handhaaf.  Die teendeel is egter ook waar; wanneer die mense by jou spreekwoordelike tafel kla en galbraak is dit baie moeilik om nie self ook pessimisties en negatief te wees nie. 
Hier aan die einde van die jaar het ons minder emosionele kapasiteit en ons energie tenkies is redelik leeg.  Jy kan dit dus nie nou bekostig om jou tafel te deel met Kwaai Karel of Siniese Susan nie. Omring jouself júís nou met mense wat vir jou die wonder van Kersfees kan uitwys en diegene wat vrede aanhang. Kuier gereeld saam met vriende wat jou uit jou maag laat lag en spandeer tyd met familie wat saam met jou die goeie tye onthou én uitsien na ‘n toekoms van hoop.

Advent, die tyd van afwagting, begin amper! Ons kan jaar na jaar Jesus se geboorte vier en in hierdie tyd van afwagting die tafel wat God vir ons elke dag dek geniet! God nooi jou na Sy tafel van vrede, liefde en genade.  

Kies jou tafelgenote versigtig sodat hulle jou nie verhoed om God se uitnodiging en keurig gedekte tafel mis te kyk nie.

Mag jy in hierdie laaste paar weke van 2023 saam met Dawid bely:

“U laat my by ‘n feesmaal aansit,
terwyl my teëstanders moet toekyk.
U ontvang my soos ‘n eregas,
ek word oorlaai met hartlikheid.
U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly
en ek sal tuis wees in die huis van die Here.”
Psalm 23: 5-6

Liefdegroete,
Sonnika