Dieselfde ou bekende storie
geskryf deur Prop. Olga Ludwick -Venter
Lukas 1:26- 2:20
Daar is iets daaraan om ‘n bekende televisie reeks oor en oor te kyk. Na ‘n ruk ken jy al die woorde. Jy weet wat gaan volgende gebeur. Maar steeds lag jy vir dieselfde grappe. Ander kere hoor jy iets vir die eerste keer, wat jy dalk nie voorheen verstaan het nie.
Daar is iets daaraan om ‘n reeks wat jy so goed ken weer en weer te kyk. Dis gemaklik en voorspelbaar. Elke keer wat jy die reeks weer van voor af begin kyk, onthou jy die seisoene in jou lewe wat jy dit gesit, gelê of gestaan en kyk het. As ‘n kind saam met jou ouers; die eerste keer toe jy dit saam met daai outjie of meisie waarop jy smoor verlief was gekyk het; daai tyd in jou loopbaan toe jy so besig was en net nie krag gehad het vir iets nuut nie.
Elke keer as jy dit kyk, is dit asof die karakters jòù beter leer ken. Miskien is dit jy wat self ontdek dat jy nog verder in jou lewe gevorder het en ‘n bietjie anders is as die vorige keer toe jy dit gekyk het.
Kersfees is vir my baie dieselfde as om na ‘n ou reeks te kyk. Daar is sekere dinge wat voorspelbaar is. Die kersfeesliedere wat ons woord-vir-woord uit ons koppe ken. Die boom met die liggies; die tinsel en kerskranse. Rooi, groen en blink. Die reuk van vleis wat stadig gaargemaak is. Die kersverhaal…
Kersfees is ook ‘n gelaaide tyd. Jy onthou dalk die verskillende seisoene van jou lewe: as kind saam met jou ouers; as jong getroudes; as gesin; as ouma of oupa. Die bekende kleure, ‘n herinnering van hoe baie jy al verander het. ‘n Gevoel van heimwee. En dalk ‘n wonder oor wag die volgende jaar sal bring.
Wanneer ek ‘n reeks oor en oor kyk, kyk ek nooit die laaste episode nie. Ek weet die karakters het almal hulle ‘happily ever after’, maar daar is tog iets daaraan om in die bekende te bly. Om net so bietjie te talm.
Jesus se geboorte merk die begin van sy lewe. Sy bekende storie wat ook ons deur ons verskillende seisoene gesien het. Dis ‘n voorreg om elke jaar deur die bekende verhaal te reis. Met kersfees staan ons stil en drink die familiariteit en warmte daarvan in.
Anders as in ‘n tv-reeks, kan ons nie daar ophou kyk nie, want die volgende hoofstuk is die hoofstuk wat ons skryf. Maar die bekendheid van kersfees herinner ons dat ons nie die verhaal alleen skryf nie. En dat ons nie net deel voel van die hoofkarakter se lewe nie, maar dat Hy ons elkeen werklik ken.
Mag die kersseisoen jou in Sy bekendheid groet. En mag jy die vrede, vreugde, hoop en liefde wat Sy teenwoordigheid bring, tasbaar beleef.