Waar gaan dit heen?

geskryf deur Dr Karin Steyn
Dis einde Januarie…kan jy dit glo?

Baie van ons skud nog die seesand uit ons sakke of probeer nog aan maniere dink om dit uit ons karre en klere te kry. Ons koppe moet egter al weer by die werk wees. Die pas is vinnig en daar is ‘n lekker energie in die lug met alles wat nuut begin. ‘n Nuwe jaar by die skool, ‘n eerste in die Hoërskool. Dalk ‘n nuwe woonbuurt of werk of selfs ‘n nuwe projek…

Meeste van ons deel egter die gedagte: Tyd gaan vinnig. Te vinnig vir waarmee ons werklik gemaklik is. Ons hoor dit in amper elke gesprek wat ons het. Dit laat my wonder waarvan ons presies praat as tyd vir ons vinnig gaan?

Ek leer die week dat my vriend wat op ‘n baie hoë berg bly en ek wat by die see bly, tyd verskillend ervaar. Kan dit wees? My vriend op die berg se horlosie sal vinniger beweeg as myne. So, op ‘n manier ervaar hy meer “tyd” as ek. Hy gaan ook wel vinniger oud word as ek. Hoe werk dit?!

Tyd is afhanklik van gravitasie. Tyd beweeg vinniger hoe nader ons aan die aarde is. So, tong- in-die-kies beweeg tyd stadiger vir jou voete en vinniger vir jou kop. Op ‘n manier kan ons hiermee vereenselwig. Navorsers leer ons dat tyd versnel hoe meer jy weg beweeg uit jou liggaam uit. Hoe meer teenwoordig jy is in jou liggaam hoe stadiger beweeg tyd.

Ons kan poëties raak oor hierdie gedagte. Die Psalm digter het. Die antieke mens het iets verstaan daarvan dat ons God ontdek in stilte. In stop. In teenwoordig wees. Dalk seisoenaal, soms net vir ‘n oomblik.

Met die nuwe jaar wat voor ons lê weet ons daar is baie wat baklei vir jou tyd. Daar gaan oomblikke wees waar dit net te vinnig gebeur of net te vinnig verby is.

Mag jy dit regkry in 2024 om teenwoordig in jou liggaam te leef. Mag jy lank genoeg stop en die regte vrae vra om gesonde ritmes in jou lewe in te bou. Want jy gaan tyd nooit besit nie, net gebruik. Mag jou lewe nie vir jou weghardloop nie.

Vrede.