Hulle weet nie wat ons weet nie

geskryf deur Ds Marco Koch
“Hulle weet nie wat ons weet nie!” Hierdie woorde gons oor die hele Suid-Afrika nadat Dricus du Plessis verlede week die titel as UFC-kampioen verower het. In ‘n onderhoud vra iemand vir hom wat hy met dié woorde bedoel wat hy in die kamera gesê het na een van sy oorwinnings. Hy verduidelik dat dit nie soseer gaan oor wat die ander nié weet nie, dit gaan meer oor wat ons land se mense wél weet. Hy praat namens alle Suid-Afrikaners wanneer hy sê: “...ons het nie noodwendig die hulpbronne wat ander lande het nie en ons het load shedding en ander probleme, maar ons het tog iéts wat ander nie het nie. Hulle weet nie wat ons bereid is om te doen om te wen nie. Ons is ánders gebou.”

Die idee van andersheid is nie ‘n nuwe gedagte nie. Vir die vroeë kerk is dit presies wat hulle verstaan het onder die idee van heiligheid. Jy is nie heilig omdat jy vroom en rein is nie. Jy is heilig omdat jy anders as die wêreld leef. Dis waarom Christenskap so vinnig versprei het:

•Waar die wêreld sou vlug vir ‘n pes, sou die Christene hul lewens waag om te versorg.
•Waar die wêreld ‘n wrok sou hou, het Christene vergewe.
•Waar die wêreld onbekostigbare rente van skuld sou vereis, het Christene skuld afgeskryf.
•Waar die wêreld die vreemdeling, weduwee en weeskinders sou verstoot, het Christene hulle versorg.

Die les wat die vroeë Christene vir ons leer is; dit gaan nie net daaroor dat hulle nie weet wat ons weet nie, maar dat hulle nie leef soos ons leef nie.

Scott McNight daag die hedendaagse Christene uit wanneer hy sê “Die wêreld is nie kwaad vir die kerk omdat ons anders is nie. Hulle is kwaad vir ons omdat ons nie anders genoeg is nie.”

Romeine 12:2
Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

Vrede,
Marco Koch