Waar soek jy vrede?

geskryf deur Sonnika Nel
“En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” – Fil.4:7

Ek lees dikwels hierdie vers en smag dan na die vrede waarvan Paulus in sy brief praat. Dit klink amper soos die tipe vrede wat niemand van ons nog beleef het nie. ‘n Idilliese plek in jou kop en siel waar rustigheid, saligheid en geluk sekerlik moet heers?  

Maar dan onthou ek dat Paulus homself allermins op ‘n eilandvakansie bevind het terwyl hy hierdie geskryf het. Hy was in die tronk!  Dit laat my gereeld wonder hoe lyk ‘n plek van vrede dan?

Is dit wanneer ons oggendroetine uiteindelik rustig en bedaard raak en ons nie rondskarrel vir motorsleutels en verlore kosblikke nie?

Is dit wanneer my kollegas saamstem met al mý planne en idees en ons in perfekte harmonie by die kantoor met mekaar saamwerk?

Is dit wanneer ek “genoeg” geld het wat vir my die nodige sekuriteit bied?

Of is dit wanneer ek gereeld kan wegbreek uit die stad en in God se Skepping tyd kan spandeer en Hom daar ervaar?

Kan ek dalk net hierdie vrede “wat alle verstand te bowe gaan” ervaar as alles oplaas perfek is?  Dit impliseer dat ek dan nóóit vrede gaan ervaar nie, want ek en jy weet maar al te goed dat ons bestaan hier op aarde bitter ver van perfek af is.  

Jesus se wyse woorde op die berg help my bietjie hiermee in Matteus 5:9: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”
 
Dit beteken vrede is iets wat ek kan máák en nie iets wat ek ontváng nie. Vrede is dus nie iets wat my eksterne omgewing of omstandighede vir my kan teweegbring nie.  Dit beteken dat Paulus vrede in die tronk moes kíés en nie passief wag dat hy een oggend daarmee wakker word nie.  

Om vrede te máák kan beteken om vandag doelbewus dankbaar te lewe en te kies om die mooi in my besige dag raak te sien.  Dit kan beteken ek moet die strydbyl bêre al vóél ek nie so nie en dalk selfs my trots in my sak steek en uitreik na iemand.  Vrede is om aktief te streef na groei ten spyte van moeilike omstandighede en dinge wat net nie vir jou wil uitwerk nie.
 
Wayne Dyer is ‘n skrywer en berader en skryf: “Peace is the result of retraining your mind to process life as it is, rather than how you think it should be.”

Vrede kom dus van binne, sodat ek in vrede na buite kan kyk. Vrede is om die illusie van die “perfekte prentjie” te laat gaan en die realiteit om my te aanvaar.

Mag jy hierdie week die durf hê om vrede te gaan MAAK, juis daar waar dit onwaarskynlik lyk en mag jy nie jouself verloor terwyl jy wag dat vrede in jou skoot beland nie.