Wat het jy beplan?

geskryf deur Dr Zander van der Westhuizen
Vandag gebeur twee dinge: Ons vier die liefde en dit is Aswoensdag.

Dalk het jy 'n romantiese aand saam met jou geliefde beplan. Jy koop rose of sjokolade. Jy bespreek 'n netjiese en stylvolle restaurant. Jy skryf 'n kaartjie of draai iets toe. Of dalk het jy al vanoggend vir jou anderhelfte ontbyt in die bed gevat. Dalk is jy nog nie eers in 'n verhouding nie. Dalk skep jy moed bymekaar om vandag jou intensie te kommunikeer. Dalk 'n skelm briefie in 'n tas of 'n eerste date. Wie weet! Dalk is dit nou eers die begin. 

En Lydenstyd? Wat beplan jy vir die belangrikste seisoen in 'n Christen se lewe? Ek wil dit waag om te sê dat baie mense meer tyd aan Valentynsdag spandeer as aan Aswoensdag. Of dalk beplan jy vir beide niks. Dit het nie eers geregistreer nie. 

Miskien is jy soos my granny wat altyd met Lydenstyd sjokolade gevas het. Sy was Katoliek. Vir haar was Lydenstyd 'n jaarlikse reis. Sy het altyd onthou wat Jesus vir haar opgeoffer het en daarom moet sy ook haarself vir 7 weke daaraan herinner. Dit is die minste wat sy kan doen. 

Of jy het iets gelees wat jou oortuig het om dinge te doen in Lydenstyd wat lewe gee. Jy wil soos Jesus lewe bring. Die kruis het tog ook 'n leë graf. Behalwe vir opoffering is daar ook die viering van lewe. Dus is jou plan om hierdie jaar eerder tydens Lydenstyd fees te vier, die Here te bedank vir jou lewe en iets te doen wat lewe bring vir ander. 

Ek gaan vanaand Aswoensdag-erediens toe. Ek gaan my vrou saamnooi en ons gaan die grootste liefde vier wat daar is - Jesus se liefde. Ek gaan jou nie verkwalik vir die mooi restaurant of die blomme nie. Mag jy wel die waagmoed hê om te onthou dat selfs daardie liefde van God se opoffering af kom. 

En dan hoop ek jy beplan iets deurdag en bewustelik vir Lydenstyd. 
Dit is immers groter as Kersfees. 
Dit is die minste wat jy kan doen.