Chasing the SON

geskryf deur Ds. Marco Koch
Op Aswoensdag, 14 Februarie, het ons hierdie jaar se Lydenstyd afgeskop. Lydenstyd is ‘n tyd van fokus op ons toewyding aan Jesus en ons besin oor ons eie geloofsritmes om Hom beter te volg. Die kerk oor die eeue het dit gedoen deur vir die 40 dae van Lydenstyd te vas. Dit is ook ‘n tyd waarin ons onsself verbind aan die liggaam van Christus. Ons as gemeente doen dit deur ons name op lappe te skryf en dit dan aan die tou buite by die Labarint vas te bind.

Dink so daaraan:
Die Springbokke is ‘n span. Elkeen in die span se naam is agterop sy trui (stuk lap). Wanneer jy jou naam op ‘n stuk lap skryf en vasbind sê jy daarmee dat jy deel van ‘n span is. Die NG Tygerpoort span.

  • Die spelers met hul name op is nie toeskouers nie, hulle sit nie tussen die skare nie. Hulle is op die veld en doen die harde werk. 
  • Dit is lekker om deel van die span te wees. Jy werk immers nie rugby nie, jy speel Rugby. 
  • Elkeen het ‘n spesifieke rol wat hulle in die span vervul. Malcolm Marx gaan nie pale toe skop nie. Handre Pollard gaan nie sak in die skrum nie. Só vervul jy jou rol in die gemeente waartoe die Here jou roep.
  • Enige span doen net so goed soos hul swakste speler. Daarom ondersteun en help ons mekaar. 

Die vraag wat jy jouself in Lydenstyd afvra is: Wat is my rol? Hoe is ek deel van die span? Hoe ondersteun ek ander? Hoe offer ek op soos wat Jesus opgeoffer het?

Chasing the Sun 2 is die TV reeks wat die verhaal agter die skerms van die Springbokke se suksesvolle 2023 wêreldbeker sage vertel. Die eerste episode skop af op Sondag 24 Maart. Dit is ook die begin van Groot Lydensweek, die hoogtepunt van Lydenstyd, die laaste week van Jesus se lewe as mens op aarde. Mag jy met elke advertensie van Chasing the Sun 2 en die opbou van hierdie reeks herinner word aan die opbou van Groot Lydensweek, waar ons herinner word om Jesus te volg. Dalk dan nie Chasing the Sun nie, maar Chasing the SON.

Vrede,