Happie vir happie

geskryf deur Sonnika Nel
Ek is seker jy het ook al só gevoel: almal vra op dieselfde tyd iets anders van jou. Jy probeer jou bes om jouself op agt plekke gelyk te plaas en by almal uit te kom, maar selfs al het jy seekat-arms gehad, sou dit net nie genoeg wees nie, want jy het net een kop!  En jou kop spin behoorlik om te probeer byhou met alles en almal. Jy wil graag alles vir almal wees, jy wil graag aan die einde van ‘n dag voel dat jy iets betekenisvol bereik het en jy wil graag die drome en ideale wat jy jare gelede vir jouself gestel het najaag.

Maar daar is nie genoeg tyd nie.

Jy het nie genoeg hulpbronne nie.

En party dae het jy bloot net nie die krag nie.
 
Op hierdie punt voel jy dan totaal en al OORWELDIG. Dis moeilik om te besluit waar om te vat en waar om te los.  Die ouerskapskenners beveel aan dat jy by soveel as moontlik van jou kind se lewe betrokke moet wees.  Die huweliksberader herinner jou om nie jou man of vrou af te skeep nie.  Die gim-instrukteur verwag ‘n ekstra sessie per week want “’n gesonde liggaam huisves mos ‘n gesonde siel”. Jou  “life-coach” stel meer tyd vir jouself voor waar jy kan doen wat net vir jou lekker is. En die kerk en die skool het jou tyd en betrokkenheid nodig.

Maar eintlik wil jy net sit en voor jou uitstaar. Ek wens soms ek kan die “pause” knoppie druk sodat alles en almal om my net vir ‘n oomblik kan vries terwyl ek my koffie drink, terwyl ek krag bymekaar skraap vir my volgende afspraak, terwyl ek net my gedagtes orden.  Maar ongelukkig werk dit nie so nie en die lewe stel ‘n bepaalde hoeveelheid eise binne ‘n beperkte aantal tyd.
 
Om te sê dat ek my tyd beter moet bestuur of my prioriteite beter moet beplan, impliseer dat ek in die eerste plek beheer het daaroor.  Die realiteit is dat ons soms net nie die beheer in ons eie hande kan vashou nie.  Maar dit kan tog nie beteken dat ek maar net so moet voortleef nie?  

Daar is wel iets wat ons kan doen as teenvoeter vir daardie OORWELDIGENDE gevoel.  By die Griefshare Ondersteuningsgroepe, leer ons dat wanneer jy so oorweldig voel, asof die see se golwe jou rondgooi sonder vastrapplek onder jou voete: “Just do the next best thing”. Doen vir eers net die een volgende ding op jou lysie of in jou program.

Ons kyk dikwels na ons hele “to-do” lysie op een slag of dink aan wat alles nog in hierdie week moet gebeur en dis eenvoudig NET TE VEEL.  Ons raak dan benoud, angstig, verlam en uiteindelik teleurgesteld in onsself. Fokus NET op die één ding wat volgende moet gebeur, en dan nóg een, en dan nóg een.  ‘n Klomp klein oorwinnings gee ons hoop en moed en krag om nog aan te pak.  

Ons doen dit met ons geloofslewe ook: ek wil meer tyd met God spandeer, maar ek het nie tyd vir ‘n lang stilwordsessie en ‘n bybelstudie of om na ‘n preek te luister nie.  Dan raak ons net al hoe meer moedeloos oor hoe ver verwyderd ons van Hom af voel. Maar probeer om net een klein konneksie op ‘n slag aan te pak: ‘n aanbiddingslied in jou kar oppad werk toe, ‘n opregte skietgebed voor jou moeilike vergadering of vyf minute se stilte in jou kantoor saam met God voor die dag begin.

God nooi ons nie net op ‘n Sondag in die kerk nie, maar selfs op ons besigste en júís op ons mees oorweldigende dae: ”Kom na my toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” (Matteus 11: 28) Mag jy hierdie week dit regkry om nie te ver vooruit te kyk nie, maar net te fokus op wat jy NOU moet doen en hoe jy God in HIERDIE oomblik kan ontmoet.

‘n Wyse vriendin herinner my laas week toe ek moedeloos my besige program en bekommernisse op haar skoot neergooi : “Happie vir happie, vriendin!  Hoe anders eet mens dan nou ‘n olifant?”