Wat beheer jy?

geskryf deur Sonnika Nel
Ek is vas oortuig dat mammas wat hul kinders by die skool oplaai ‘n gedaante-verwisseling ondergaan sodra hulle in die motor klim om hierdie takie te verrig.

Jy moes dit tog ook al opgelet het? Jou goedhartige vriendin wat nou soos ‘n maniak tussen die ander motors deurjaag om haar kind reg voor die hek op te laai. Die oulike mamma wat altyd cupcakes stuur vir die koekverkoping wat by haar venster uithang en woedend vir jou skree om vinniger te maak. Selfs die geduldige en liefdevolle ouma wat nou reg voor die hek parkeer en wag en bloot haar gehoor-apparate afskakel sodat sy nie die histeriese toeters kan hoor nie.

Wat maak dan dat mense wat uit goeie huise kom en liefdevolle harte het nie die druk van iets onbelangrik soos skoolverkeer kan hanteer nie?

Ek skryf dit deels toe aan die verlies aan beheer in ons lewens. Ons word omring deur slagspreuke soos Jy is die kaptein van jou skip of Beheer jouself of iemand anders sal. Die realiteit is dat bitter min dinge binne ons beheer is.  Jy het nie beheer daaroor as jou eggenoot skielik sterf nie.  Jy het nie beheer daaroor of jou kinders se vriende van hulle hou of nie.  Jy het nie beheer oor kanker wat ewe skielik jou pad kruis nie.  Ons lewens is vol voorbeelde van situasies waar ons beheer verloor en magteloos moet toekyk hoe ons leefwêreld inmekaar tuimel. Dit is die tipe situasies waar selfs nie geld of invloed of geleerdheid weer vir jou die beheer kan teruggee nie.

En dan probeer ons beheer wat ons kán om daardie gevoel van magteloosheid teen te werk. Ons boelie die ander ouers in die parkeerarea met ons 4x4 voertuig, ons verskree die kelner by Spur of ons dring aan om die bestuurder se bestuurder te sien in DisChem as ons nie ons sin kry nie.

Die ironie is: Méér beheer is NIE ‘n teenvoeter vir magteloosheid nie. Dit lê daarin om te erken dat die beheer in die eerste plek nie in óns hande lê nie. Niks wat ek of jy doen kan die verloop van die lewe verander of beheer nie.  Ons glo dus eintlik verkeerdelik dat beheer ons gevoel van magteloosheid gaan wegneem.  

Wanneer ons egter in oorgawe aan God leef, weet ons dat Hy saam met ons gaan, waarookal die lewe se kronkelpaaie ons neem. Dat Hy vir ons die krag sal gee om selfs die grootste berge uit te klim. En dat dit nie vir ons nodig is om situasies en ander mense te beheer om “okay” te wees nie.

“Ons sê dit omdat ons deur Christus ten volle op God vertrou. Uit onsself is ons nie in staat om iets te bedink asof dit uit onsself kom nie.  Ons bekwaamheid kom van God.” – 2 Korintiërs 3: 4-5

Sit hierdie week bietjie tyd opsy en vra jouself in watter areas van jou lewe jy magteloos voel en kyk of jy dit nie dalk ook met meer beheer op ander plekke probeer teenwerk nie.
Ek bid dat God vir jou hierdie week die insig sal gee dat beheer jou nie gaan laat beter voel nie, maar slegs oorgawe in Sy liefdevolle hande.