Mense is kompleks

geskryf deur Dr Karin Steyn
‘Die soldate het ook twee ander mans weggevat om hulle saam met Jesus te kruisig. Hierdie mans was skelms. Hulle kom toe by 'n plek, die plek se naam was Kopbeen. Daar het die soldate vir Jesus gekruisig. Hulle het ook die twee skelms gekruisig, een regs langs Jesus en die ander een links langs Hom.’ Lukas 23:32-36


Ons het nou net Paasfees gevier en die beeld van Jesus aan die kruis saam met die twee sondaars bly die jaar nogal by my. Francois van Coke sing in sy lied: Die wêreld is mal die volgende:

Die wêreld is mal
Kompleks en kwesbaar, mense wat oor mekaar val
Die wêreld is mal
jy is die uitsondering want die wêreld is mal.


Gaan kyk gerus sy musiekvideo. Sy woorde en lied spreek my die week aan saam met die gedagtes oor wie langs Jesus gekruisig is. Want om my sien en hoor ek hoe hard ons met mekaar is. Hoe maklik ons besluit wie reg of verkeerd is, in of uit is. Dis amper ons tweede natuur om geopinieerd oor ander te wees.

Ek lees van die Russiese Nobelpryswenner vir letterkunde, Alexander Solzhenitzyn. Hy was ‘n kritikus van die Russiese kommunistiese regime. So het hy met daardie regering gebots. Hy is gevange geneem en het jare lank in ’n kamp deurgebring waar hy ook dwangarbeid moes verrig. Hy het uiteindelik politieke asiel by die VSA gekry en het daarheen  gevlug. In die kampe waarbinne hy aangehou was, kon hy genoeg van die menslike natuur sien om te kon onderskei tussen “goed” en “sleg” in mense. Hy skryf aangrypend daaroor:
“If only there were evil people somewhere insidiously committing evil deeds, and it were necessary only to separate them from the rest of us and destroy them. But the line dividing good and evil cuts through the heart of every human being. And who is willing to destroy a piece of his own heart?”

Jy sien, dit is die diepe moeilikheid in ons wêreld : nie die boosheid van ander mense nie, maar die boosheid in my eie hart. Wanneer ons dit verstaan, dan kry ons nuwe waardering vir God se geduld met ons en ook met die sondaars wat langs hom gekruisig was.

Met Lydenstyd was ons almal op verskillende maniere besig met ons menswees. Op reis om God plek te gee in ons lewens. Ons mag nie nou stop nie.

Mag ons bewus bly van ons EGO en die effek daarvan op ons lewens. Want dit is redelik maklik om te sien hoe lyk mense wat deur die ego verorber is. Oral waar hulle gaan is daar altyd een of ander konflik, spanning of angs teenwoordig.

Volgens die sielkundige Carl Gustav Jung (1875-1961) het elke mens ‘n sentrale ego-kompleks. Daarmee bedoel hy dat elkeen van ons, soos ons blootgestel is aan die wêreld om ons, ‘n identiteit geskep het om dit te kan interpreteer en verstaan. Hierdie identiteit het met tyd ‘n blinde heerser van ons gedrag geword. Dis die “ek” waarvan ‘n mens bewus is. Dis die “ek” wat die uiterlike wêreld ervaar maar dit is ook jou innerlike prentjie van jouself. Die ego is ‘n soort van tussenganger tussen jou sosiale omgewing en jou persoonlike onbewuste.

Jy het dus ‘n storie geskep, saamgeflans deur jou ondervindings en ervarings en so ‘n EK-storie geskep. Ons gelowiges se konstante werk is om doelbewus na binne te gaan en jou motiewe en sogenaamde sekerhede te herbesoek. Ek glo dit is wanneer die liefde van God ons vind. Soms nogal op onverwagse plekke en tye. Net soos met die twee wat langs Jesus gehang het.
 
Byron Katie slaan dus die spyker op die kop as sy sê: “You are what exists before all stories.” Jy is meer as wat jy van jouself dink of sê. Dalk moet ons die week die kans vat om dit ook te glo van ander.

Vrede,
Ds. Karin