Wat sien mense deur jou?

geskryf deur Sonnika Nel
Jenn Johnson sing in haar lied, For the One: 
“Help me to love with open arms, like You do;
A love that erases all the lines and sees the truth,
That when they look into my eyes, they would see You.
Even in just a smile, they would feel the Father’s love.”

Ons is volgens God se beeld geskape.  Ons is Sy verteenwoordigers. Maar ek wonder soms wat mense van God raaksien as hulle na my kyk? 
Sien hulle Sy liefde, of sien hulle hoe ek mense wat nie soos ek dink en doen nie, veroordeel?
Sien hulle Sy Vaderhart, of sien hulle my ongeduld en selfsug as ek verontrief word?
Sien hulle Sy verlossing, of maak my onvergewensgesindheid hulle bitter en bang?

Ek het elke dag gesprekke met mense oor hul emosies.  Ek moedig mense aan om nie hul emosies op te krop nie en om nie ‘n moordkuil van hul harte te maak nie.  Ek moedig mense aan om meer openlik met die mense in hul lewens te kommunikeer en standpunt in te neem wanneer hul onregverdig behandel word.  Ek is dus glad nie ‘n voorstander van iemand wat toelaat dat die wêreld oor hulle loop nie, want ek glo dat God meer as dit vir ons wil hê. 
Die geheim lê egter in HOE ons kommunikeer, redeneer, protesteer en leef. Ons kan nie onsself as God se verteenwoordigers etiketteer en dan skelm die kat in die donker knyp nie.  Ons kan nie getuig dat God goed is vir ons en dan op die sekuriteitswag skree wat eintlik net sy werk doen nie.  Ons kan nie die naam Christen trots op ‘n bandjie om ons arm dra en in doelbewuste onmin by die huis leef nie.

Die verantwoordelikheid rus op ons skouers om vir die wêreld te WYS wie God is.
Die wêreld sien Sy liefde as jy ander met respek behandel.
Jou kollegas sien Sy Vaderhart as jy geduldig, goedhartig en mededeelsaam optree.
Jou kinders sien Sy Verlossing as jy vergewe en vergeet. 

Maak dit hierdie week jou missie om vir die wêreld iets te wys van God se grootheid en liefdevolle geaardheid.  Mag ander Sy liefde vir ons in JOU glimlag en JOU optrede raaksien.

Liefde, 

Sonnika